ROMEINE 14:13-21

ROMEINE 14:13-21 Bybel vir almal (ABA)

Die gelowiges wat 'n sterk geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat 'n swak geloof het, doen verkeerd. En die gelowiges wat 'n swak geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat 'n sterk geloof het, doen verkeerd. Ons moet besluit om nie dinge te doen wat ander gelowiges sonde laat doen of wat hulle laat ophou glo nie. Ek behoort aan die Here Jesus en daarom weet ek dat niks self onrein is nie, maar wanneer mense dink iets is onrein, dan is dit vir húlle onrein. Wanneer jy iets eet, en ander gelowiges hou nie daarvan dat jy dit eet nie, en dit maak hulle seer, dan lewe jy nie soos iemand wat lief is vir die ander gelowiges nie. Jy moenie iets eet as jy weet dit sal ander gelowiges vir altyd laat sterf nie, want Christus het gesterf sodat daardie gelowiges kan lewe. God is baie goed vir julle, julle moenie dat die ander mense sleg praat oor die goeie dinge wat julle gekry het nie. Want die dinge wat ons eet en drink, is nie belangrik daar waar God, die Koning, regeer nie. Dit is belangrik dat God ons vryspreek en dat Hy vir ons vrede gee en vir ons help om regtig bly te wees, ons almal wat die Heilige Gees het. As ons so vir Christus dien, dan is God tevrede met ons en dan sal ander mense ons respekteer. Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is, dinge wat ander gelowiges help om hulle geloof sterk te maak. Die dinge wat julle eet en drink moenie vir julle so belangrik wees dat dit die goeie dinge verwoes wat God wil doen nie. Julle moet onthou: Al die kos is rein, maar wanneer julle iets eet, en dit laat 'n ander gelowige sonde doen, dan doen julle verkeerd om dit te eet. Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of iets anders te doen wat ander gelowiges sonde laat doen nie.

ROMEINE 14:13-21 Die Boodskap (DB)

Moenie gedurig kritiek lewer op hoe ander mense lewe nie. Nee, maak eerder seker dat jy nie die oorsaak is dat ander gelowiges struikel en val nie. Moenie dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie. As julle my persoonlike mening oor al hierdie dinge vra, sê ek sommer reguit vir julle dat geen kos vanself onrein is nie. ’n Mens kan enigiets eet. Maar as party mense tog dink dat dit verkeerd is om sekere soorte kos te eet, moet hulle dit liewer nie eet nie. Dan doen hulle verkeerd. Hiervan het die Here Jesus my oortuig. As jy ander Christene aanstoot gee deur die kos wat jy eet, selfs al is dit nie in jou eie oë verkeerd nie, maak jy nie reg nie. Dan tree jy nie volgens die reëls van die Christelike liefde op nie. Onthou dat daardie mense wat weier om sekere soorte kos te eet, ook Christene is. Christus het ook vir hulle gesterf. Waarom wil jy hulle lewens dan verwoes deur iets wat glad nie belangrik is nie? Moenie só julle goeie naam deur die modder sleep nie. Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat ’n mens eet of drink nie. Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars op grond van sy ongelooflike goedheid van hulle sondes vrygespreek word. Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is. Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly. Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle. Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak. Wat bereik ons as ons alles wat God in ons lewe opgebou het, gaan staan en afbreek oor ’n stukkie vleis? Ek sê weer: ’n mens kan alle kos eet. Maar as jy ander mense aanstoot gee deur dit wat jy eet, tree jy verkeerd op. As jy in die openbaar vleis eet of wyn drink of enigiets anders doen wat ander gelowiges laat struikel, is jy baie selfsugtig.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid