PSALMS 97:1-12
PSALMS 97:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Die Here is Koning. Die aarde moet juig, die baie eilande moet bly wees. Niemand sien die Here nie, daar is donker wolke rondom Hom, maar Hy doen reg en Hy oordeel reg wanneer Hy regeer. Wanneer Hy kom, dan is daar 'n vuur voor Hom, en dit verbrand sy vyande rondom Hom. Sy weerligstrale maak die wêreld lig. Die aarde sien dit en bewe. Die berge smelt voor die Here, voor die Here van die hele aarde. Die hemel bring die nuus dat die Here reg doen, al die volke sien dat Hy Koning is. Almal wat beelde dien, voel verneder, almal wat gespog het oor goed wat niks beteken nie, almal wat gespog het oor al die gode wat nou voor die Here moet buig. Sion hoor dit en is bly, al die stede van Juda juig omdat U, Here, die vyande gestraf het. Ja, Ú, Here, U is belangriker as almal op die hele aarde, U is baie belangriker as al die gode. Die mense wat lief is vir die Here, moet slegte dinge haat. Die Here beskerm die mense wat in Hom glo. Hy red hulle van die mense wat verkeerd doen. Daar is baie lig in die lewe van mense wat reg doen, eerlike mense sal altyd bly wees. Mense wat reg doen, julle moet bly wees omdat julle aan die Here behoort. Julle moet vir Hom dankie sê omdat julle sy heilige Naam ken.
PSALMS 97:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees! Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon. 'n Vuur gaan voor sy aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand. Sy bliksems verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe. Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde. Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid. Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer. Sion hoor dit en is bly, en die dogters van Juda juig oor u oordele, o HERE! Want U, HERE, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe bo al die gode. O Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose. Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart. O Regverdiges, wees bly in die HERE, en loof sy heilige gedenknaam!
PSALMS 97:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here regeer, die aarde moet juig, al die baie eilande moet bly wees! Die Here is omgewe van donker wolke; sy troon is gebou op reg en geregtigheid. 'n Vuur trek voor Hom uit en verteer sy vyande aan alle kante. Sy weerligstrale verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe. Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde. Die hemel getuig dat Hy regverdig is en al die volke sien sy magtige verskyning. Almal wat beelde dien, wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter, want al hulle gode moet voor die Here buig. Sion is bly, die stede van Juda juig wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here. U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde, hoog verhewe bo alle gode. Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is! Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars, Hy red hulle uit die greep van die goddelose. Vir die regverdiges het daar lig gekom, blydskap vir die opregtes. Wees bly in die Here, regverdiges, prys sy heilige Naam.
PSALMS 97:1-12 Die Boodskap (DB)
Die Here regeer! Sy skepping moet oorloop van blydskap. Van hier tot in die laaste hoekie van die wêreld moet hierdie blydskap weerklink. Waar die Here is, is daar nie plek vir oneerlikheid nie. Wat Hy doen, is altyd reg en goed. Soos ’n vuur wat ’n veld tot as verbrand, vernietig Hy elkeen wat Hom probeer teëgaan. As sy weerlig slaan, staan die aarde in verwondering en vrees in die helder lig. As die Here, wat oor hierdie wêreld heers, verskyn, smelt berge weg soos botter in die warm son. Uit die hemel kom die boodskap dat wat die Here doen, reg is, en dat almal en alles sal sien hoe groot en belangrik Hy is. Die mense wat afgode aanbid, sal hulle kop in skaamte moet laat sak. Elkeen wat ’n afgod sy god maak, sal met ’n rooi gesig staan. Al hierdie gode sal voor die Here neerval, want Hy is die Here wat oor alles heers. Elkeen wat aan die Here behoort, juig uitbundig oor die goeie nuus dat U in hierdie wêreld laat gebeur wat reg is, o Here. Niemand is groter as U nie. Geen afgod kan u plek vat nie. As jy vir die Here lief is, hardloop dan weg van alles waarvan Hy nie hou nie. Hy sal jou oppas en beskerm teen enigiemand wat jou wil seermaak. As jy Hom gelukkig maak, sal sy geluk jou soos lig omvou. As jy aan Hom behoort, sal jou hart van vreugde oorloop. Laat God se kinders van geluk oorloop omdat hulle aan die Here behoort. Prys en dank die Here vir wie Hy is.
PSALMS 97:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE regeer! Laat die aarde juig. Laat die talle eilande bly wees. Wolke en duisternis omring Hom. Reg en geregtigheid is die grondslag van sy troon. Vuur gaan voor Hom uit en al sy teenstanders verbrand. Sy weerligte verlig die wêreld. Die aarde sien dit en bewe. Berge smelt soos was voor die HERE, voor die Here van die hele wêreld. Die hemele verkondig sy geregtigheid; elke volk sien sy heerlikheid. Almal wat beelde vereer, is tot skande gebring, almal wat roem op hulle nietige afgode; want alle gode moet voor Hom buig. Sion het dit gehoor en is bly, en die stede van Juda juig oor u oordele, HERE! Want U, HERE, is hoog verhewe bo die hele aarde; U is verhewe ver bo alle gode. Julle wat die HERE liefhet, haat dan wat boos is! Hy beskerm die lewe van sy getroues, Hy red hulle uit die mag van goddeloses. Oor regverdiges skyn daar lig, en daar is blydskap vir hulle wat opreg is. Regverdiges, wees bly in die HERE, en prys sy heilige Naam!