NUMERI 4:5-6,15
NUMERI 4:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer die mense in die kamp moet weggaan, dan moet Aäron en sy seuns kom en hulle moet die gordyn voor die binneste kamer afhaal. Hulle moet die kis waarin die tien gebooie is, daarmee toemaak. Dan moet hulle 'n seil van sagte vel bo-oor die kis sit, en daarna 'n lap van blou wol-materiaal. Daarna moet hulle die dra-houte in die ringe van die kis sit.
Numeri 4:15 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer die mense moet weggaan uit die kamp, dan moet Aäron en sy seuns eers die tempel-tent en al sy gereedskap toemaak. Wanneer hulle dit klaar gedoen het, dan kan die Kehat-familie dit kom dra. Hulle mag nie aan die gewyde dinge raak nie. As hulle dit doen, dan sal hulle sterf. Die Kehat-familie se werk is om die tent te dra waar die Here aan die Israeliete verskyn.
NUMERI 4:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek. En hulle moet 'n dekkleed van robbevelle daarop sit en 'n doek, heeltemal van pers stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek.
NÚMERI 4:15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.
NUMERI 4:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. “Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet 'n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met 'n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek.
NUMERI 4:15 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word.
NUMERI 4:5-6 Die Boodskap (DB)
“Net voor die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns in die tabernakel ingaan en eers die voorste gordyn afhaal. Hulle moet dit dan oor die ark met die kliptafels daarin gooi. Bo-oor die gordyn moet hulle ’n seil van gebreide velle gooi. Dan moet hulle alles met ’n groot blou doek toemaak. Daarna moet hulle die pale waarmee die ark gedra word, op die regte plekke insteek.
Numeri 4:15 Die Boodskap (DB)
“Wanneer dit tyd is om die kamp te verskuif, moet Aäron en sy seuns eers al die voorwerpe wat gebruik word om die Here te dien behoorlik toemaak. Eers dan kan die Kehatiete dit kom dra na die volgende kamp toe. Hulle mag nie aan hierdie voorwerpe raak nie, anders sal hulle dadelik doodgaan. Dit is die Kehatgroep se taak wanneer die tent waar die Here aanbid word, verskuif moet word.
NUMERI 4:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer julle kamp afslaan om verder te trek, moet Aäron en sy seuns die afskortingsgordyn kom afhaal en oor die ark van die verbond trek. Daar bo-oor moet hulle ’n laag gebreide vel trek en dít weer met ’n stuk blou materiaal toemaak. Dan moet hulle weer die drapale insteek.
NUMERI 4:15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer Aäron en sy seuns alles van die heiligdom en die dinge wat daarby hoort, klaar toegemaak het en die kamp opgebreek het, sal die Kehatiete kom om dit te dra. Hulle mag aan niks wat heilig is raak nie, anders sal hulle doodgaan. Dit is dan alles van die tabernakel wat die Kehatiete moet vervoer.