NUMERI 21:4-9
NUMERI 21:4-9 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het van Hor-berg verder gegaan op die pad na die Riet-see. Hulle wou óm die land Edom gaan. Maar die mense het moeg geword op die pad en hulle het teen God en Moses gepraat en gekla. Hulle het gesê: “Hoekom het julle ons uit Egipte gebring om in die woestyn te sterf? Want hier is nie kos en water nie, en ons is moeg vir hierdie slegte kos.” Toe het die Here slange gestuur wat vlerke het. Die slange het die mense gepik, en baie Israeliete het gesterf. Die mense het na Moses toe gekom en gesê: “Ons het sonde gedoen, want ons het teen die Here en teen jou gepraat. Jy moet tot die Here bid en jy moet vra dat Hy die slange moet wegneem van ons.” Moses het toe gebid soos die volk gevra het, en die Here het vir hom gesê: “Jy moet 'n slang maak wat vlerke het en jy moet die slang vasmaak aan 'n vlagpaal. As 'n slang iemand gepik het, dan moet daardie persoon na die slang op die paal kyk, en dan sal die persoon nie sterf nie.” Moses het 'n slang van brons gemaak en hy het die slang vasgemaak aan 'n vlagpaal. Wanneer 'n slang iemand gepik het, en die persoon kyk na die slang van brons, dan het hy nie gesterf nie.
NUMERI 21:4-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou 'n giftige slang en sit dit op 'n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. Toe het Moses 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit: en as 'n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
NUMERI 21:4-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.” Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.” Moses het toe vir die volk gebid, en die Here het vir Moses gesê: “Maak 'n beeld van 'n giftige slang en sit dit op 'n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.” Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. As iemand wat deur 'n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.
NUMERI 21:4-9 Die Boodskap (DB)
Omdat die Israeliete nie deur Edom kon trek nie, het hulle van die berg Hor af die pad in die rigting van die Rietsee gevolg. Langs die pad het die volk weer ongeduldig geword en teen God en Moses begin uitvaar: “Hoekom het julle ons uit Egipte uit laat trek net om in hierdie woestyn dood te gaan? Hier is nie behoorlike kos of water nie. Ons is nou al siek en sat vir hierdie walglike kos!” Toe stuur die Here giftige slange onder die volk in. Die slange het hulle gepik en baie van hulle is dood. Die volk het toe by Moses gaan bely: “Ons erken dat ons sonde gedoen het toe ons teen jou en die Here uitgevaar het. Tree tog vir ons in en vra die Here om hierdie slange weg te vat.” Toe bid Moses vir die volk. Hierop het die Here vir hom gesê: “Maak ’n afbeelding uit koper van so ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal en laat die paal regop staan. As iemand deur ’n slang gepik word en opkyk na daardie koperslang, sal hy bly leef.” Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. Elkeen wat deur ’n slang gepik is en opgekyk het na die koperslang, het bly leef.
NUMERI 21:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle is van Gorma af weg met die pad na die Rietsee toe om by Edom verby te kom. Langs die pad het hulle ongeduldig begin word. Die volk het teenoor die HERE en Moses begin kla: “Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om hier in die woestyn te sterf? Hier is nie kos en water nie. Ons walg van die nuttelose manna!” Die HERE het toe giftige slange onder die volk gestuur. Hulle het die volk gepik. Baie uit Israel is daarvan dood. Hulle het na Moses toe gekom en by hom bely: “Ons het ’n fout gemaak met wat ons teen jou en die HERE gesê het. Bid tog vir die HERE dat Hy die giftige slange van ons af sal wegvat.” Moses het toe namens die volk tot God gebid. Die HERE het vir Moses gesê: “Maak vir jou ’n afbeelding van ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.” Moses het toe ’n slang van brons gemaak en dit bo-op ’n paal gesit. As ’n slang iemand gepik het, het hy na die bronsslang gekyk en hy het bly leef.