MARKUS 7:1-13

MARKUS 7:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Die Fariseërs het by Jesus bymekaargekom. Saam met hulle was daar ook skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het gesien party van die dissipels van Jesus het hulle kos met onrein hande geëet. Dit beteken hulle het nie hulle hande eers op 'n spesiale manier gewas nie. Die Fariseërs en al die Jode het altyd eers hulle hande op 'n spesiale manier gewas voordat hulle geëet het. Hulle het dit gedoen soos hulle voorouers altyd gedoen het. Wanneer hulle iets gekoop het, dan het hulle dit altyd eers op 'n spesiale manier gewas. Dan het hulle geëet. Hulle het ook nog baie ander dinge gedoen soos hulle voorouers gedoen het, hulle het hulle koppies, bekers, koperbakke, tafels en banke op 'n spesiale manier gewas. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het vir Jesus gevra: “Hoekom lewe jou dissipels nie soos ons voorouers vir ons geleer het nie? Hulle eet met onrein hande.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle is skynheilig. Dit is waar wat die profeet Jesaja oor julle gesê het. Hy het geskryf: “God sê: Hierdie volk sê hulle respekteer My, maar dit is nie waar nie, hulle harte is ver van My. Dit help niks om God so te dien nie. Want hulle leer vir die mense wette wat hulle self gemaak het, en dan sê hulle dit is God se wette. “Julle luister nie na wat God vir julle sê nie. Maar julle hou aan om te doen wat mense sê.” Jesus het ook vir hulle gesê: “Julle vergeet God se wette maklik, sodat julle kan aanhou doen wat julle voorouers altyd gedoen het. Moses het gesê: ‘ Jy moet jou ouers respekteer.’ Hy het ook gesê: ‘ As iemand sy pa of sy ma vervloek, dan moet hy sterf. Dit is seker!’ Maar julle sê iemand mag vir sy pa of vir sy ma sê: ‘Ek kan julle nie help nie, want die goed wat ek vir julle moes gee, is nou korban, dit beteken ek het dit vir die Here gegee.’ Julle sê vir hom hy moenie sy pa of sy ma help nie. Julle doen nooit wat God vir julle sê nie, julle doen net wat julle voorouers vir julle gesê het. Julle doen baie maal dinge soos hierdie.”

MARKUS 7:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die Fariseërs en sommige van die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het by Hom saamgekom; en toe hulle sommige van sy dissipels met onrein, dit is met ongewaste, hande sien brood eet, het hulle dit afgekeur. Want die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense. En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde. Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag: Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande? En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: As 'n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is 'n offergawe — dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.

MARKUS 7:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie. Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?” Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. “Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.” Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: 'n offergawe vir God. En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

MARKUS 7:1-13 Die Boodskap (DB)

’n Klomp baie belangrike Jode uit Jerusalem kom toe na Jesus toe. Party van hulle was deel van die streng godsdienstige groep van die Fariseërs en daar was ook ’n paar wie se werk dit was om te sê hoe ’n mens die Skrif en veral die wet moes verstaan. Hulle het Jesus en sy volgelinge fyn dopgehou. Hulle sien toe dat ’n paar van sy volgelinge kos eet sonder om hulle hande te was, wat ingedruis het teen die wet van die Jode. (Daar was baie streng Joodse wette wat ’n mens moes volg om jouself rein en reg te kry om te eet. Die Jode sou nie eet voor hulle eers hulle hande gewas het nie. Hulle het dit van die ou tyd af so gedoen. Byvoorbeeld, as hulle van die winkel af kom, sal hulle niks eet voordat hulle eers hulle hande op ’n spesifieke manier gewas het nie. En dit is nie al nie. Daar is hope sulke gebruike, soos om jou koppies, bekers, panne en selfs stoele op die voorgeskrewe manier te was.) Juis daarom vra die besoekers uit Jerusalem toe vir Jesus: “Vir wat doen jou volgelinge nie wat ons mense nog al die jare doen nie? Hoekom was hulle nie hulle hande voor hulle eet nie? Nou eet hulle met hande wat nie voor God skoon is nie.” Jesus sê toe: “Jesaja was reg toe hy gesê het wat God van ’n klomp skynheilige mense soos julle dink. Daar staan geskryf: ‘God sê: Hierdie mense sê al die regte dinge voor God, maar hulle dien Hom nie uit hulle hart nie. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde asof dit God is wat so sê, maar dit is ’n klomp reëls wat hulle sommer self uitgedink het.’ “Julle steur julle nie meer aan wat God van julle vra nie. Julle stel net belang in wat julle tradisies en voorouers sê. “Julle is goed daarmee om God se wil eenkant toe te skuif en julle eie tradisies in die plek daarvan te sit. Moses het mos gesê: ‘Respekteer jou pa en ma’ en ‘as iemand sy pa of ma slegmaak en verneder, moet hy doodgemaak word.’ Maar kyk wat het julle met Moses se woorde gemaak. Julle sê dat iemand vir sy ouers kan sê: ‘Jammer, ek het niks om vir julle te gee nie en ek kan julle ook nie help as julle hulp nodig het nie, want ek het al my goed vir die Here opsy gesit.’ Dan hoef hy niks meer met sy ouers te doen te hê of vir hulle te sorg nie. Wat God wil hê, word dus eenkant toe geskuif. Julle steur julle nie daaraan nie, maar dwing julle eie menslike tradisies op almal af en forseer hulle weer om dit vir hulle kinders te leer. En Ek kan nog baie ander sulke voorbeelde vir julle opnoem.”

MARKUS 7:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag het daar Fariseërs en sekere skrifkenners van Jerusalem af opgedaag om Jesus te konfronteer. Hulle het agtergekom dat party van sy dissipels nie die gebruiklike Joodse ritueel gevolg het om hulle hande voor ete te was nie. (In navolging van hulle voorvaderlike tradisie eet die Jode, en in besonder die Fariseërs, nie voordat hulle hulle hande deeglik gewas het nie. Net so eet hulle niks wat van die mark af kom as hulle nie eers hulle hande gewas het nie. Daar is ook nog baie ander tradisies waaraan hulle vashou – dinge soos die seremoniële reiniging van drinkbekers, kruike, bakke en eetbankies.) Die Fariseërs en skrifkenners vra Jesus toe: “Waarom volg jou dissipels nie die tradisie van ons voorvaders nie? Hulle eet dan sonder om vooraf hulle hande seremonieel te was.” Hy het hulle geantwoord: “Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het dit raak gestel toe hy van julle geskryf het: ‘Hierdie volk eer My met hulle lippe, maar hulle hart is ver van My af. Hulle godsdiens is blote skyn, want hulle hou menslike dogmas voor as wette van God.’ “Julle ignoreer God se opdrag en hou ten koste daarvan aan menslike tradisies vas.” Hy sê toe weer vir hulle: “Julle verstaan die fyn kuns om God se opdrag opsy te skuif sodat julle julle tradisie kan handhaaf! Moses het byvoorbeeld vir julle hierdie opdrag van God gegee: ‘Behandel jou ouers met respek,’ en: ‘Iemand wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.’ Julle sê egter dit is heeltemal in orde as iemand vir sy ouers sê: ‘Jammer, ek kan Pa en Ma nie help nie. Ek het alles waarmee ek vir Pa en Ma kon gehelp het, reeds aan die Here toegewy.’ “So veroorsaak julle dat hy sy ouers heeltemal verwaarloos en verbreek julle God se opdrag ten gunste van julle tradisie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is baie meer.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid