MARKUS 6:30-44

MARKUS 6:30-44 Bybel vir almal (ABA)

Die apostels het teruggekom na Jesus toe en hulle het vir Hom alles vertel wat hulle gedoen het en wat hulle vir die mense geleer het. Mense het aanhoudend na Jesus toe gekom en hulle het nie tyd gehad om te eet nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle moet saam met My na 'n stil plek gaan sodat julle 'n bietjie kan rus.” Hulle het in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gesien Jesus en sy dissipels gaan weg en hulle het geweet waarnatoe hulle gaan. Die mense het van verskillende stede vinnig na die plek gehardloop. Hulle het voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Jesus het uit die boot geklim, en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy was bekommerd oor hulle, want hulle was soos skape wat nie 'n skaapwagter het nie. Jesus het begin om vir die mense baie dinge te leer. Dit het laat geword, en Jesus se dissipels het na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die mense weg sodat hulle na die plase en dorpies hier naby kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?” Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.” Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000.

MARKUS 6:30-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die apostels het by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie. En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid. En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader. En toe Jesus uitklim, sien Hy 'n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer. En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat. Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. En almal het geëet en versadig geword; en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne.

MARKUS 6:30-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.” Hulle het met 'n skuit na 'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.” Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?” Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.

MARKUS 6:30-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En die •apostels het by Jesus byeengekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen en onderrig het. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle saam na 'n verlate plek en rus 'n bietjie op julle eie.” Want daar was baie mense wat voortdurend gekom en gegaan het; hulle het selfs nie kans gekry om te eet nie. En hulle het in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op hulle eie te wees. Maar baie mense wat hulle sien vertrek het, het hulle herken en te voet van al die dorpe af daarheen gestroom, en nog voor hulle daar aangekom. Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig. Toe dit al baie laat begin word, kom sy dissipels na Hom en sê: “Dit is 'n verlate plek, en dit is reeds baie laat. Stuur hulle weg na die plase in die omgewing en na die dorpies om vir hulleself iets te ete te gaan koop.” Maar Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons dan met tweehonderd denarius gaan brood koop en vir hulle gee om te eet?” Maar Hy vra vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Hulle het gaan uitvind en kom sê: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit om saam te eet. Hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. Hy het toe die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Daarna het Hy die brode in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om vir die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel. Daar was vyfduisend mans wat van die brode geëet het.

MARKUS 6:30-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die apostels het by Jesus vergader en Hom alles vertel, wat hulle gedoen het en wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self afsonderlik na 'n verlate plek en rus 'n rukkie, want daar was baie wat gekom en gegaan het, en hulle het geen tyd gehad om te eet nie. En hulle het afsonderlik per skip na 'n verlate plek vertrek. En die volk het hulle sien wegtrek, en baie het hom geken, en uit al die stede daarheen gehardloop en hulle uitgetrek en by hom bymekaargekom. En toe Jesus uitkom, het Hy baie mense gesien en was innig jammer vir hulle, omdat hulle soos skape was wat geen herder het nie; en Hy het hulle baie dinge begin leer. En toe die dag verby was, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en nou is die tyd verby. Stuur hulle weg, dat hulle die land rondom en na die dorpe kan gaan en vir hulle brood kan koop, want hulle het niks om te eet nie. Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Sal ons gaan en brood koop vir twee honderd penninge en hulle om te eet? Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? gaan kyk. En toe hulle dit weet, sê hulle: Vyf en twee visse. En hy het hulle beveel om almal by groepe op die groen gras te laat sit. En hulle het in geledere gaan sit, by honderde en by vyftig. En nadat Hy die vyf brode en die twee visse geneem het, het Hy opgekyk na die hemel en geseën en die brode gebreek en dit aan sy dissipels gegee om voor hulle voor te sit; en die twee visse het hy onder almal verdeel. En hulle het almal geëet en versadig geword. En hulle het twaalf mandjies vol van die brokstukke en van die visse opgetel. En die wat van die brode geëet het, was omtrent vyfduisend man.

MARKUS 6:30-44 Die Boodskap (DB)

Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ’n ruk teruggekom. Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het. Maar dit was omtrent soos ’n malhuis rondom Jesus. Mense het so gekom en gegaan dat Jesus-hulle nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam na ’n stil plek gaan om ’n bietjie te gaan rus. Hulle is toe saam in ’n skuit na ’n plek waar hulle op hulle eie kon wees. Maar ’n klomp mense het hulle gesien gaan. Hulle hardloop toe al met die strand langs en was selfs voor Jesus-hulle nog by die plek. Van oral af het die mense gekom. Toe Jesus-hulle daar land, wag daar natuurlik ’n massa mense vir hulle. Dit het Jesus diep geraak. Daar staan die mense rond en hulle lyk net soos ’n klomp skape wat nie ’n herder het om hulle te lei nie. Jesus begin toe met hulle oor God en sy dinge gesels. Dit het later begin skemer raak. Jesus se volgelinge kom hou toe kajuitraad met Hom. “Ons is so ver van winkels af en kyk hoe laat is dit al. Dink U nie dit is ’n goeie plan om die mense te vra om gou by die winkeltjies in die omgewing vir hulle iets te gaan kry om te eet nie?” “Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.” “Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?” “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe. Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord. Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit. Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol. Daar was baie mense; net die mans wat saamgeëet het, was 5 000.

MARKUS 6:30-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: “Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.” Hulle het toe per skuit na ’n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees. Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag. Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig. Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.” Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.” Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!” Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.” Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.” Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit. Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!

MARKUS 6:30-44

MARKUS 6:30-44 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid