MARKUS 11:1-11

MARKUS 11:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het naby Jerusalem gekom, by twee dorpies op die Olyf-berg: Betfage en Betanië. Toe hulle daar kom, stuur Jesus twee van sy dissipels en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hiernatoe. Wanneer iemand vir julle vra hoekom julle dit doen, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik, maar Hy sal hom gou weer hiernatoe terugstuur.” Die twee dissipels het gegaan en hulle het buite in die straat 'n jong donkie gekry wat vasgemaak was by 'n deur. Hulle het die donkie losgemaak. Party van die mense wat daar gestaan het, vra toe vir hulle: “Wat doen julle? Hoekom maak julle die donkie los?” Die dissipels het die mense geantwoord soos Jesus gesê het, en die mense het hulle nie gekeer nie. Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe en hulle gooi van hulle klere oor die donkie. Jesus het op die donkie gaan sit. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi. Ander mense het takke afgekap van die bome in die veld en hulle het dit in die pad gegooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en die ander mense wat Hom gevolg het, het aangehou om hard te skree en te sê: “ Prys God! Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen! Prys Hom! Hy sal nou begin om Koning te wees oor almal, soos ons voorvader Dawid! Prys God in die hoogste hemel!” Jesus het in Jerusalem na die tempel-gronde gegaan. Hy het daar rondgekyk na alles. Daarna het Jesus en sy twaalf dissipels na Betanië gegaan, want dit was al laat.

MARKUS 11:1-11 Die Boodskap (DB)

Hulle kom toe by Betfage en Betanië teen die hange van die Olyfberg aan. Dit was nie ver van Jerusalem af nie. Jesus vra toe twee van sy volgelinge: “Gaan na die dorpie toe hier voor ons. Nes julle by die dorpie inkom, sal julle ’n jong donkie kry waarop niemand nog ooit gery het nie. Maak hom los en bring hom hier. As iemand julle voorkeer en vra wat julle doen, sê vir hom: ‘Die Here het hierdie donkie nodig. Sodra Hy klaar is, sal Hy die donkie terugstuur.’” Hulle is toe daar weg en kry die donkie wat in die straat by ’n deur vasgemaak staan. Toe hulle die donkie losmaak, is daar dadelik ’n paar mense by wat wil weet wat hulle doen. Hulle sê toe wat Jesus gesê het. Die mense was tevrede en het hulle hulle gang laat gaan. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!” Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan.

MARKUS 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus en sy dissipels eers die dorpies Betfage en Betanië, wat teen die Olyfberg lê, bereik. Daarop het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle en nes julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie wat nog nooit gery is nie, vasgemaak sien staan. Maak dit los en bring dit hierheen. As iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ sê dan: ‘Die Here het die donkie nodig; Hy sal hom nou-nou terugstuur.’” Die twee dissipels het toe vertrek en hulle het ’n jong donkie gekry wat buite in die straat by die ingang van ’n huis vasgemaak staan. Terwyl hulle hom losmaak, het van die omstanders beswaar gemaak en vir hulle gesê: “Wat dink julle doen julle? Hoe kan julle die donkie sommerso losmaak?” Hulle het toe geantwoord soos Jesus hulle beveel het, en die mense het hulle toe laat begaan. Daarna bring hulle die jong donkie na Jesus toe. Hulle sit toe hulle bo-klere op die donkie en Jesus gaan sit op hom. Baie van die skare het toe hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi, ander weer groen takkies wat hulle in die veld gekap het. Met Jesus in die middel van die optog het hulle uitgeroep: “Prys God! Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam! Geseënd is die koningsheerskappy van ons voorvader Dawid wat aan die kom is! Prys God in die hoogste hemel!” So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid