MARKUS 10:42-45
MARKUS 10:42-45 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat dink hulle kan oor ander mense regeer en hulle kan die mense verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander mense dien. En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. Want Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.”
MARKUS 10:42-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.
MARKUS 10:42-45 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
MARKUS 10:42-45 Die Boodskap (DB)
Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet mos hoe dit byvoorbeeld onder die Romeine gaan. Hulle het leiers wat vir die mense sê wat moet gebeur en wat nie. Belangrike amptenare sit in die hoë poste en regeer die gewone mense van daar af. “Onder julle as Christene mag dit egter nie gebeur nie. As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem. Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie. “Selfs Ek, die Seun van die mens, het nie gekom sodat almal My moet bedien nie. Ek het gekom om ander te dien. Daarom het Ek my lewe gegee sodat baie mense daardeur weer God se eiendom kan word.”
MARKUS 10:42-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien. En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”