MARKUS 10:33-34
MARKUS 10:33-34 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”
MARKUS 10:33-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene; en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.
MARKUS 10:33-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer. Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.”
MARKUS 10:33-34 Die Boodskap (DB)
“Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee. Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.”
MARKUS 10:33-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode. Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”