MARKUS 1:32-39
MARKUS 1:32-39 Bybel vir almal (ABA)
In die aand toe die son al onder was en die Sabbatdag verby was, het hulle aangehou om baie mense na Jesus toe te bring, siek mense en mense wat duiwels in hulle gehad het. Al die mense van die stad het bymekaargekom by die deur van die huis. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na 'n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.” Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag.
MARKUS 1:32-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. En die hele stad het by die deur saamgekom. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg. En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U. En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan. En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf.
MARKUS 1:32-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.
MARKUS 1:32-39 Die Boodskap (DB)
Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag.
MARKUS 1:32-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring. Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie bose geeste uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê. Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid. Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.” Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.” So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf.