MATTEUS 6:9-13
MATTEUS 6:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
MATTEUS 6:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
MATTEUS 6:9-13 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet só bid: “Ons Vader wat in die hemel is, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Ons bid dat al die mense op die aarde sal doen wat U wil hê hulle moet doen, soos die engele in die hemel dit doen. Gee vir ons vandag die kos wat ons vandag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het teen U, soos ons ook ander mense vergewe wat verkeerd gedoen het teen ons. En help ons dat niks sal gebeur wat ons sal laat sonde doen nie. Maar beskerm ons teen die duiwel.
MATTEUS 6:9-13 Die Boodskap (DB)
“Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid: Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê. Gee ons vandag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen.
MATTEUS 6:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel. Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het. En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het. Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose.