MATTEUS 28:11-15
MATTEUS 28:11-15 Bybel vir almal (ABA)
Die vroue het gegaan om te doen wat Jesus gesê het. Party van die soldate wat die graf opgepas het, het toe ook na Jerusalem gegaan. Hulle het vir die priesterleiers gaan vertel wat alles by die graf gebeur het. Die priesterleiers en die familieleiers het toe bymekaargekom en hulle het planne gemaak. Hulle het baie geld vir die soldate gegee en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense sê: ‘Jesus se dissipels het in die nag sy liggaam kom steel terwyl ons geslaap het.’ As die goewerneur dit hoor, dan sal ons vir hom sê julle is onskuldig. Julle moenie bekommerd wees nie.” Die soldate het toe die geld gevat en hulle het gedoen wat die Joodse leiers vir hulle gesê het. Die Jode vertel tot vandag toe nog hierdie storie wat die soldate oral vertel het.
MATTEUS 28:11-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het. En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was. En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is. Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.
MATTEUS 28:11-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.
MATTEUS 28:11-15 Die Boodskap (DB)
Die wagte het intussen die hasepad gekies. Party van hulle is terug stad toe om vir die hoëpriester te gaan vertel wat alles gebeur het. Die Joodse leiers het dadelik weer ’n noodvergadering belê. Hulle het ooreengekom om wat gebeur het stil te probeer hou. Maar hulle moes by die soldate verbykom en bied toe vir hulle ’n aardige bedrag aan. “Vertel asseblief vir almal dat julle deur die nag aan die slaap geraak het. Jesus se vriende het toe die kans gebruik om sy liggaam te steel. Moet julle nie verder oor iets bekommer nie. Ons sal vir alles sorg. As die goewerneur vra waarom julle aan diens geslaap het, sal ons wel ’n storie uitdink wat sal keer dat iets met julle gebeur.” Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat. Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel. Die Jode glo die storie tot vandag toe nog.
MATTEUS 28:11-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het. Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag. Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’ As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe.