MATTEUS 27:3-10
MATTEUS 27:3-10 Bybel vir almal (ABA)
Judas wat vir Jesus verraai het, het gehoor dat die Joodse Raad besluit het dat Jesus skuldig is en dat Hy moet sterf. Judas was toe jammer en hy het die 30 silwer geldstukke teruggegee vir die priesterleiers en die familieleiers. Hy het gesê: “Ek het sonde gedoen, want ek het 'n onskuldige man verraai, en nou moet Hy sterf.” Maar die priesterleiers en die familieleiers het vir hom gesê: “Dit is nie ons probleem nie! Dit is jou probleem!” Judas het toe die geld in die tempel gegooi en hy het weggegaan en homself opgehang. Die priesterleiers het die geld geneem en gesê: “Ons kan dit nie by die tempel se geld sit nie, want dit is bloedgeld.” Hulle het saam planne gemaak, en toe het hulle die geld geneem en hulle het die grond van die pottebakker gekoop sodat hulle vreemdelinge daar kon begrawe. Daarom noem die mense daardie stuk grond vandag nog “Bloedgrond.” So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het: “ Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem, dit is hoeveel die Israeliete besluit het ek moet kry. En hulle het dit betaal vir die grond van die pottebakker, want dit was wat die Here vir my gesê het.”
MATTEUS 27:3-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang. En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe. Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.
MATTEUS 27:3-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.” Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!” Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang. Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.” Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”
MATTEUS 27:3-10 Die Boodskap (DB)
Judas, wat Hom verraai het, het alles mooi dopgehou. Toe hy agterkom wat die Joodse leiers oor Jesus besluit het, het hy vreeslik sleg gevoel. Sy gewete het hom begin pla. Hy het die omkoopgeld gevat en dit vir die Joodse leiers gaan teruggee. “Dè, vat! Ek het ’n groot fout gemaak. Ek het ’n onskuldige man in die moeilikheid laat beland.” “Dit is jou saak. Dit pla ons nie,” sê die Jode. Judas gooi toe die geld net daar in die tempel neer en hardloop weg. Later het hulle hom gekry waar hy homself opgehang het. Die priesters het die geld gevat en gesê: “Dit is jammer, maar ons kan nie hierdie geld as kollekte vir die tempel vat nie. Dit is mos geld wat vir iemand se lewe betaal is.” Hulle het besluit om die geld te gebruik om ’n begraafplaas aan te skaf vir vreemde mense wat nie familie in Jerusalem gehad het om hulle te begrawe nie. Hulle het ’n stuk grond by ’n pottebakker gekoop. Daarom is daardie begraafplaas tot vandag toe nog bekend as “Bloedgrond”. Dit was net soos die profeet Jeremia lank terug gesê het: “En hulle het die 30 stukke silwer gevat, die prys wat die Israeliete op sy kop gesit het, en dit vir die grond van die pottebakker betaal. Dit is die Here se instruksies aan my.”
MATTEUS 27:3-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!” Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.” Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op. Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.” Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word. Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is – en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.”