MATTEUS 25:31-46

MATTEUS 25:31-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan. “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

MATTEUS 25:31-46 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gesê: “Wanneer Ek, die Seun van die mens, die Koning, saam met al my engele kom, dan sal Ek op my troon sit en Koning wees. Dan sal al die volke voor My bymekaarkom, en dan sal Ek die mense van mekaar skei, soos 'n skaapwagter die skape van die bokke skei. En Ek sal die skape regs langs My laat staan en die bokke links langs My. Dan sal Ek, die Seun van die mens, vir die mense regs langs My sê: ‘Kom, my Vader het julle geseën. Hy wil van altyd af Koning wees oor julle, vandat Hy die aarde gemaak het. Julle moet dit nou aanvaar en bly wees daaroor. Want toe Ek honger was, het julle vir My iets gegee om te eet, en toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink. Toe Ek 'n vreemdeling by julle was, het julle gesê Ek is welkom by julle. Ek het nie klere gehad nie, en julle het vir My klere gegee om aan te trek. Ek was siek, en julle het vir My gesorg. Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, sal dan vir My sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger en het ons vir U iets gegee om te eet? Wanneer het ons gesien U is dors en het ons vir U iets gegee om te drink? Wanneer het ons gesien U is 'n vreemdeling en het ons gesê U is welkom by ons? Wanneer het ons gesien U het nie klere nie en het ons vir U klere gegee om aan te trek? Wanneer het ons gesien U is siek of in die tronk, en het ons U besoek?’ Die Koning sal dan vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit gedoen het vir een van my vriende, ook vir die een wat die minste belangrik is, toe het julle dit vir My gedoen.’ Dan sal die Koning vir die mense links langs Hom sê: ‘Gaan weg van My! God het julle vervloek. Julle moet na die vuur gaan wat altyd brand, die vuur wat Hy gereedgemaak het vir die duiwel en sy engele. Want toe Ek honger was, het julle vir My niks gegee om te eet nie, en toe Ek dors was, het julle vir My niks gegee om te drink nie. Toe Ek 'n vreemdeling was, het julle nie gesê Ek is welkom by julle nie, en toe Ek nie klere gehad het nie, het julle nie vir My klere gegee om aan te trek nie. Ek was siek en in die tronk en julle het nie vir My gesorg nie.’ Dan sal ook húlle vir die Koning sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger of dors, of U is 'n vreemdeling of U het nie klere nie, of U is siek of in die tronk? Wanneer het ons U nie gedien nie?’ Dan sal die Koning vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit nie gedoen het vir een van hierdie mense wat die minste belangrik is nie, toe het julle dit ook nie vir My gedoen nie.’ God sal hierdie mense vir altyd straf, maar die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, sal die ewige lewe kry.”

MATTEUS 25:31-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

MATTEUS 25:31-46 Die Boodskap (DB)

“Wanneer die Seun van God kom, sal almal sien hoe belangrik Hy is. Al sy engele sal saam met Hom kom. Hy sal op die troon gaan sit waar net die belangrikste Een, die Koning self, mag sit. Dan sal al die mense voor Hom bymekaargebring word. Hy sal die mense in twee groepe verdeel, soos ’n skaapwagter bokke en skape van mekaar skei. Hy sal die een groep regs van Hom laat staan en die ander groep aan sy linkerkant. “Die Koning sal dan na die mense regs van Hom draai. ‘Staan nader, want my Vader is baie tevrede met julle. Heel van die begin af het Hy die hemel vir mense soos julle reggemaak. Hy wil hê dat julle dit saam met Hom moet kom geniet. Maar weet julle waarom God so tevrede met julle is? Laat Ek julle vertel. Ek het niks gehad om te eet nie, maar julle het My kos gegee. Toe Ek dors was, was julle daar met ’n glas water. Toe Ek nog vir julle ’n onbekende was, het julle My al in julle huise verwelkom en selfs slaapplek gegee. Julle het vir My klere gegee toe Ek niks gehad het om aan te trek nie. Op my siekbed het julle My geduldig versorg. Toe Ek in die tronk beland het, het julle julle nie vir My geskaam nie, maar vir My kom kuier.’ “Die mense wat reg gelewe het, onderbreek Hom: ‘Here, wag so ’n bietjie. Waarvan praat U? Wanneer het ons U kos gegee toe U honger was of ’n glas water toe U dors was? Ons kan nie onthou dat ons ooit vir U klere of blyplek gegee het nie. Help ons, asseblief, ons verstaan nie mooi nie. Wanneer was U siek of in die tronk en het ons U gehelp?’ “Die Koning op die troon antwoord: ‘Wil julle regtig weet wanneer julle hierdie dinge vir My gedoen het? Luister dan goed: elke glas water of stukkie brood wat julle aan ’n broer van My gegee het, het julle eintlik aan My gegee. Wie my vriende help, al is hulle hoe onbelangrik, help My.’ “Die Koning sal dan na die groep aan sy linkerkant draai. ‘Trap! Weg voor My! God wil niks met julle te doen hê nie! Die hel wag vir julle. God het dit spesiaal reggemaak vir die duiwel en al sy helpers. Wil julle weet waarom? Toe Ek so gesmag het na ’n stukkie brood, wou julle nie eens vir My ’n krummeltjie gee nie. Julle wou My nie ’n druppel water gee toe Ek dors was nie. Julle wou My nie in julle huise ontvang toe Ek vir julle nog vreemd was nie. Klere wou julle nie vir My gee nie, selfs toe Ek nie ’n draad klere gehad het om aan te trek nie. So kan Ek aanhou. Ek was siek en in die tronk, maar julle het niks tyd vir My oorgehad nie.’ “Vinnig vra hulle: ‘Here, ons verstaan nie wat U bedoel nie. Sê vir ons, wanneer het al hierdie dinge gebeur? Gee vir ons een voorbeeld van wanneer U honger of dors of kaal of siek of in die tronk was of waar U vreemd en alleen tussen ons was en ons U nie wou help nie.’ “Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’ “Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef.”

MATTEUS 25:31-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al sy engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei. Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant. Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereedgemaak het. Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’ “Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink? En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee? En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’ En die Koning sal vir hulle antwoord: ‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’ “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereedgemaak is vir die duiwel en sy bose engele! Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’ “Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’ Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’ “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid