MATTEUS 17:1-8
MATTEUS 17:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Jakobus se broer Johannes saam met Hom geneem tot op 'n hoë berg. Daar was nie ander mense by hulle nie. Daar by hulle het Jesus toe skielik anders begin lyk. Sy gesig het soos die son geblink en sy klere het soos lig geskyn. Skielik het Elia en Moses aan hulle verskyn en hulle het met Jesus gestaan en praat. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, dan sal ek hier drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus was nog besig om te praat, toe het 'n helder wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “ Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly. Julle moet doen wat Hy sê.” Toe die dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en hulle het met hulle gesig teen die grond gaan lê. Jesus het na hulle toe gekom en Hy het aan hulle geraak en gesê: “Staan op, moenie bang wees nie.” Toe die dissipels opkyk, het hulle net vir Jesus gesien, niemand anders nie.
MATTEUS 17:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op 'n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom. Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. Terwyl hy nog spreek, oordek 'n helderligte wolk hulle meteens en daar sê 'n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom! En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie. Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen.
MATTEUS 17:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle alleen was. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat. Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.” Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.
MATTEUS 17:1-8 Die Boodskap (DB)
Ses dae later het drie dissipels ’n voorsmaak gekry van God se nuwe wêreld. Dit het gebeur toe Petrus, Johannes en Jakobus alleen saam met Jesus op ’n hoë berg was. Sy voorkoms het skielik voor hulle oë verander. Sy gesig het soos die son begin gloei. En sy klere het helder wit geskyn. Moses en Elia, die twee groot profetiese figure uit Israel se geskiedenis, het hulle opwagting gemaak en met Jesus begin praat oor sy taak wat voorgelê het. Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang was nie. Hy bied toe maar aan om drie spesiale tente op te rig: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. Terwyl hy nog so staan en praat, het ’n helder wolk hulle skielik omring. Toe sê daar ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Wat Hy doen, verskaf My groot vreugde. Luister na wat Hy vir julle sê!” Toe die drie dissipels hierdie stem hoor, het hulle hulle morsdood geskrik. Hulle het plat op hulle gesigte neergeval. Jesus het egter na hulle toe gestap en hulle aangeraak. “Staan maar op. Julle hoef nie bang te wees nie,” het Hy vir hulle gesê. Toe hulle hul oë oopmaak, sien hulle slegs vir Jesus by hulle staan.
MATTEUS 17:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ’n hoë berg uit waar hulle alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander. Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword. En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.” Maar terwyl hy nog praat, oordek ’n helderglansende wolk hulle, en daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê.” Toe hulle dit hoor, het die dissipels plat op die grond neergeval. Hulle het groot geskrik. Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle: “Staan gerus maar op; moenie bang wees nie.” Toe hulle opkyk, sien hulle niemand anders meer daar nie, net vir Jesus alleen.