MATTEUS 15:1-9
MATTEUS 15:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE kom daar skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem na Jesus en sê: Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is 'n offergawe — dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie. So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.
MATTEUS 15:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar kom toe Fariseërs en skrifkenners van Jerusalem af na Jesus toe en sê: “Waarom verbreek jou dissipels ons voorouers se tradisies deur nie hulle hande voor ete te was nie?” Jesus se reaksie was: “En waarom verbreek julle, deur julle tradisie, die direkte opdrag van God? God sê byvoorbeeld: ‘Jy moet jou pa en ma eer,’ en: ‘Elkeen wat sy pa of ma slegmaak, moet definitief sterf.’ Julle sê egter: ‘As jy jou bates as ’n offer aan die Here toewy, hoef jy nie meer jou ouers te eer deur hulle te ondersteun nie.’ So trek julle met julle tradisie ’n streep deur die woord van God. Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het julle raak beskryf: ‘Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Hulle godsdiens is blote skyn, want hulle hou menslike voorskrifte voor as wette van God.’”
MATTEUS 15:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Daar kom toe Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem na Jesus toe en hulle vra vir Hom: “Hoekom is jou dissipels ongehoorsaam en doen hulle nie wat ons voorouers altyd gedoen het nie? Jou dissipels was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom is julle ongehoorsaam en doen julle nie wat Gód gesê het nie? Maar julle hou aan om te doen wat mense sê. God het gesê: ‘ Jy moet jou ouers respekteer.’ Hy het ook gesê: ‘ As iemand sy pa of sy ma vervloek, dan moet hy sterf. Dit is seker!’ Maar julle sê iemand mag vir sy pa of ma sê: ‘Ek kan julle nie help nie, want die goed wat ek vir julle moes gee, het ek vir die Here gegee.’ “So iemand respekteer nie sy pa en sy ma nie. Julle doen nooit wat God vir julle sê nie, julle doen net wat julle voorouers vir julle gesê het. Julle is skynheilig. Dit is waar wat die profeet Jesaja oor julle gesê het. Hy het gesê: “ Hierdie volk sê hulle respekteer My, maar dit is nie waar nie, hulle harte is ver van my. Dit help niks om God so te dien nie. Want hulle leer vir die mense wette wat hulle self gemaak het en dan sê hulle dit is God se wette.”
MATTEUS 15:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.” “Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?” het Jesus geantwoord. “God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek 'n offergawe vir God, dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike. Huigelaars! Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom toe hy gesê het: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. ”
MATTEUS 15:1-9 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het ’n groepie Fariseërs en skrifkenners uit Jerusalem hulle opwagting gemaak. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom steur jou dissipels hulle nie aan die godsdienstige tradisies van ons voorvaders nie? Hulle was nie hulle hande voor ete nie.” Jesus het dadelik gereageer: “En hoekom doen julle nie wat God van julle vra nie? Julle leef ver van Hom af met julle godsdienstige tradisies en al! “Kom Ek gee julle ’n voorbeeld,” het Hy bygevoeg. “Julle weet mos dat God in die Bybel sê: ‘Jy moet jou pa en ma respekteer.’ Hy sê ook: ‘Iemand wat lelike dinge oor sy pa of ma sê, moet doodgemaak word.’ Maar julle wikkel julle maklik uit hierdie voorskrif uit deur te sê: ek het al my geld aan die tempel bemaak. Net ek mag nou daarvan gebruik; niemand anders nie. Daarom kan ek nie langer vir my pa en ma sorg nie. “Weet julle, as julle julle so gou van julle verpligting teenoor julle ouers losmaak, het julle geen respek vir hulle nie. Dan stel julle julle eie godsdienstige tradisies bo God se Woord. Daardeur beroof julle God se Woord van sy krag. Julle is ’n klomp skynheiliges. Jesaja was reg toe hy oor julle geskryf het: ‘Hierdie mense sê al die regte dinge vir God, maar hulle dien Hom nie met hulle hart nie. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde terwyl hulle skewe leerstellings kwytraak.’”