MALEAGI 3:8-11
MALEAGI 3:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Die Here vra vir julle: “Mag 'n mens iets van God steel? Julle steel van My, maar julle vra: ‘Hoe het ons van U gesteel?’ Julle steel wanneer julle nie al die tiendes en die presente bring wat julle moet gee nie. Ek het opgehou om julle te seën, maar julle hou aan om van My te steel. Al die Israeliete doen dit.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet al julle tiendes na die tempel bring sodat daar kos in my tempel kan wees. Julle moet My toets en kyk of Ek julle sal seën. Ek sal die vensters van die hemel oopmaak en vir julle baie reën gee, meer as genoeg. Ek sal die sprinkane wegjaag sodat hulle nie meer julle koring opvreet nie, en die druiwe in julle wingerde sal nie meer afval nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.
MALEAGI 3:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
MALEAGI 3:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sal 'n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: “Waarvan beroof ons U?” Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds 'n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige.
MALEAGI 3:8-11 Die Boodskap (DB)
Sê nou vir My: Is dit reg om van God te steel? Natuurlik nie, maar tog steel julle van My! Moet nou nie so verbaas lyk en vra: “Wanneer het ons van U gesteel?” nie. Waar is die tiendes en die dankoffers wat julle moet bring sodat die gemeente die mense wat dit nodig het, daarmee kan versorg? Dit is die rede waarom dit so swaar gaan met julle, want die hele volk is besig om van My te steel. Bring julle volle tiende na die tempel se stoorkamers toe sodat daar genoeg kan wees om dié wat nie vir hulleself kan sorg nie te help. Probeer dit en kyk wat gebeur. As julle dit doen, sal julle sien dat julle my hande wat agter my rug vasgemaak was, losgemaak het, en dan sal Ek weer vir julle kan sorg na die beste van my vermoë. Ek sal sorg dat julle lande weer goeie oeste het en julle wingerde se druiwe volop sal wees, sê die Here van die oorvloed.
MALEAGI 3:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Sal mense God ooit besteel? Tog het julle My bedrieg! Julle vra: ‘Wat bedoel U? Wanneer het ons U ooit bedrieg?’ Julle het die tiendes en offerandes gesteel! Daar rus ’n vloek op julle, want julle hele volk besteel My.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!” Die HERE, die Almagtige, sê: “Ek sal sorg dat insekte julle oes nie verwoes nie en julle wingerde op die landerye nie misluk nie.