LUKAS 8:4-8
LUKAS 8:4-8 Bybel vir almal (ABA)
Baie mense het na Jesus toe gekom uit al die stede wat daar naby was. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “'n Man was besig om saad te saai en terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Daar het die mense op die saad getrap en die voëls het dit opgepik. Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Toe die saad begin groei, het dit gou droog geword omdat daar nie genoeg water in daardie grond was nie. Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het saam met die saad gegroei, en die dorings het die plantjies heeltemal toegegroei. Party van die saad het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het mooi gegroei, en daar was baie koring, 100 maal meer as wat die man gesaai het.” Toe Jesus die gelykenis klaar vertel het, het Hy gesê: “As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê.”
LUKAS 8:4-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe daar 'n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur 'n gelykenis: 'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val 'n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. En 'n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. En 'n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik. En 'n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
LUKAS 8:4-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel: “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.” Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”
LUKAS 8:4-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Uit die een dorp ná die ander het mense na Jesus gestroom; en toe 'n groot skare van hulle bymekaar was, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel: “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval; dit is vertrap en die voëls van die hemel het dit kom oppik. 'n Ander deel het op 'n klipbank geval; en toe dit opkom, het dit verdor, omdat daar geen vogtigheid was nie. Nog 'n deel het tussen die dorings geval, en die dorings het saam met die saad gegroei en dit verstik. En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer.” Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!”
LUKAS 8:4-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe baie mense bymekaargekom het en uit elke stad na Hom gekom het, het Hy deur 'n gelykenis gesê: 'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval; en dit is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. En sommige het op 'n rots geval; en sodra dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit 'n gebrek aan vog gehad het. En sommige het tussen die dorings geval; en die dorings het daarmee opgespring en dit verstik. En ander het op goeie grond geval en opgespring en honderdvoudig vrugte gedra. En toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
LUKAS 8:4-8 Die Boodskap (DB)
’n Groot klomp mense het van oral af na Jesus toe gestroom. Hy het toe vir hulle die volgende verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad oor die grond uitgestrooi. ’n Deel van die saad het toe op die voetpad beland wat deur die land loop. Dit is deur mense stukkend getrap. Die voëls het toe haastig daarop toegesak en alles opgeëet. Van die ander saad het op die groot klippe in die land geval. In die holtes van hierdie klippe was daar ’n bietjie grond. Die saad wat hier beland het, het vinnig opgekom, maar die plantjies kon nie behoorlik wortelskiet in die vlak grond nie. Daarom het die son hulle gou doodgebrand. Van die ander saad wat die boer gesaai het, het tussen die doringbosse beland wat in die land gegroei het. Soos die doringbosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Dit het goed gegroei en ’n groot oes gegee wat die boer se stoutste verwagtings oortref het. “Julle moet julle ore oopmaak en luister na wat Ek vir julle sê,” sê Jesus toe vir die mense.
LUKAS 8:4-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag het Jesus hierdie gelykenis vertel aan ’n groot skare wat uit baie dorpe gekom het om na Hom te luister: “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.” Toe Hy dit sê, roep Hy uit: “Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!”