LUKAS 7:37-38
LUKAS 7:37-38 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n slegte vrou in die stad, almal het geweet sy is 'n slegte vrou. Sy het gehoor Jesus is by die huis van die Fariseër om daar te eet. Sy neem toe 'n klip-kruikie met lekkerruik-olie en sy gaan sit by Jesus se voete. Sy het aangehou huil. Sy het Jesus se voete met haar trane natgemaak en met haar hare afgedroog. Toe soen sy Jesus se voete en gooi die olie op sy voete.
LUKAS 7:37-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.
LUKAS 7:37-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.
LUKAS 7:37-38 Die Boodskap (DB)
In dieselfde dorp het daar ook ’n vrou gebly wat ’n baie slegte lewe gelei het. Toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gaan eet het, was sy baie opgewonde. Sy het toe ’n bottel met baie duur parfuum gevat en reguit na Simon se huis toe gegaan. Sy wou Jesus se voete gaan salf om vir Hom te wys hoeveel respek sy vir Hom het. Toe sy by Simon se huis kom, het sy ongenooid ingestap, tussen al die mans deur, tot by Jesus. Toe die vrou agter Jesus op haar knieë gaan staan, het sy skielik in trane uitgebars. Haar trane oor haar stukkende lewe het toe op Jesus se voete geval. Sy het sy voete haastig met haar hare afgedroog. Daarna het sy sy voete gesoen en met die duur parfuum gesalf.
LUKAS 7:37-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer.