LUKAS 2:8-20

LUKAS 2:8-20 Bybel vir almal (ABA)

Daar was skaapwagters buite in die veld naby Betlehem. Hulle het in die nag hulle skape opgepas. 'n Engel van die Here het by hulle kom staan, en die lig van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle was baie bang. Die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle 'n goeie boodskap. Al die mense sal baie bly wees daaroor. Vandag is julle Redder in die stad van Dawid gebore. Hy is Christus die Here. Julle sal weet dit is Hy wanneer julle 'n baba sien wat toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel nog baie ander engele uit die hemel. Hulle het God geprys en gesê: Prys God in die hoogste hemel. By die mense op die aarde sal daar vrede wees, by die mense vir wie Hy lief is. Die engele het van die skaapwagters weggegaan na die hemel. Toe het die skaapwagters vir mekaar gesê: “Kom ons gaan dadelik na Betlehem sodat ons kan sien wat gebeur het. Dan sal ons sien wat die Here vir ons vertel het.” Die skaapwagters het haastig daarnatoe gegaan en hulle het vir Maria en Josef gekry en ook die baba wat in die krip lê. Toe die skaapwagters dit alles sien, het hulle vir die mense vertel wat die engel vir hulle gesê het oor hierdie Kindjie. Almal wat dit gehoor het, was verbaas oor wat die skaapwagters vir hulle vertel het. Maar Maria het alles onthou en baie maal daaroor gedink. Die skaapwagters het teruggegaan. Hulle het God geloof en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit het alles gebeur soos die engel vir hulle vertel het.

LUKAS 2:8-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae! En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.

LUKAS 2:8-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!” Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.” Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

LUKAS 2:8-20 Die Boodskap (DB)

Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas. Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal. Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!” Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys: “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.” Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.” Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook. Sy het die skaapwagters se woorde diep in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor God. Hulle het sy Naam geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles was presies net soos die engel vir hulle gesê het.

LUKAS 2:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore! En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!” Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.” Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.” Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas, maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink. Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid