LUKAS 2:1-5
LUKAS 2:1-5 Bybel vir almal (ABA)
In daardie tyd het keiser Augustus gesê al die mense oor wie hy regeer, moet hulle laat registreer. Sirenius was die goewerneur wat in daardie tyd oor die provinsie Sirië regeer het. Al die mense het gegaan om te registreer, elkeen het gegaan na die stad waar sy familie altyd gewoon het. Josef het in Nasaret in Galilea gewoon, maar hy moes na Betlehem gaan om te registreer. Betlehem was die stad van koning Dawid, en Josef was van die nageslag van koning Dawid. Josef was verloof aan Maria. Sy was swanger en sy het saam met Josef gegaan.
LUKAS 2:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.
LUKAS 2:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word.
LUKAS 2:1-5 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd het Augustus, die Romeinse keiser, ’n bevel uitgereik dat ’n sensus gehou moet word om vas te stel hoeveel mense daar in die Romeinse Ryk bly. Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die Romeinse goewerneur van Sirië was. Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om hulle daar te laat registreer. Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan.
LUKAS 2:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word. Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer.