LUKAS 19:1-10

LUKAS 19:1-10 Die Boodskap (DB)

Later het Jesus deur Jerigo gestap. Een van die mense wat daar gebly het se naam was Saggeus. Hy was die hoof van die berugte tollenaars wat belasting ingevorder het, en ’n skatryk man. Toe Saggeus hoor dat Jesus deur die dorp stap, het hy probeer om Hom tussen die mense deur te sien te kry. Maar hy kon nie, want hy was te kort. Toe maak hy ’n plan: hy het gou vooruitgehardloop en in ’n wildevyeboom gaan klim wat langs die pad gestaan het waar Jesus sou verbyloop. Toe Jesus by die wildevyeboom kom, het Hy skielik gaan staan, opgekyk en gesê: “Saggeus, klim dadelik af. Maak gou! Want Ek moet vandag by jou kom oorbly.” Saggeus het omtrent uit die boom geval so vinnig het hy afgeklim. Hy was baie opgewonde dat Jesus besluit het om juis by hom te kom bly. Natuurlik was die mense van die dorp glad nie bly oor Jesus se keuse nie. “Wat vang hy aan? Hoekom gaan bly hy by die grootste skelm in die dorp?” Maar Saggeus se lewe het daardie dag heeltemal verander. Hy het voor die Here gaan staan en vir Hom gesê: “Kyk, van nou af gaan ek anders lewe. Daarom gee ek nou die helfte van alles wat ek besit vir die armes. In die verlede het ek baie mense verkul met geld. Maar ek gaan daardie geld vierdubbel aan hulle terugbetaal.” Jesus sê toe: “Vandag het God jou lewe splinternuut gemaak omdat jy My in jou huis toegelaat het. Jy tel nou ook onder die kinders van Abraham. Almal wat in My glo, is sy nageslag. Jy ook! Ek, die Seun van die mens, het gekom om mense te soek wat op die verkeerde pad leef. Ek maak hulle lewens splinternuut.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid