LUKAS 1:41-45
LUKAS 1:41-45 Bybel vir almal (ABA)
Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.”
LUKAS 1:41-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word.
LUKAS 1:41-45 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”
LUKAS 1:41-45 Die Boodskap (DB)
Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.”
LUKAS 1:41-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.”