JOSUA 14:1-5
JOSUA 14:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Hier is die grond wat die Israeliete in die land Kanaän gekry het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun en die familiehoofde van die stamme van die Israeliete het die grond vir hulle gegee. Hulle het lootjies getrek om vir elkeen van die nege en 'n halwe stamme sy grond te gee. Die Here het vir Moses gesê hulle moet dit doen. Moses het vir die ander twee en 'n halwe stamme grond gegee oos van die Jordaan-rivier, maar hy het nie vir die Leviete grond gegee saam met die ander stamme nie. Daar was 13 stamme, want die nageslag van Josef was twee stamme, Manasse en Efraim, maar net twaalf stamme het grond gekry, want hulle het nie vir die Leviete 'n deel van die land gegee nie. Die Leviete het net stede gekry waar hulle kon woon en hulle het ook weiveld vir hulle diere gekry. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses gesê het, hulle het die land verdeel.
JOSUA 14:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dit is wat die kinders van Israel as erfdeel in die land Kanaän ontvang het, wat Eleásar, die priester, en Josua, die seun van Nun, en die familiehoofde van die stamme van die kinders van Israel aan hulle as erfenis uitgedeel het deur verloting van hulle erfdeel, soos die HERE deur die diens van Moses beveel het, met betrekking tot die nege en 'n halwe stam. Want Moses het die erfdeel van die twee en 'n halwe stam oos van die Jordaan gegee, maar aan die Leviete het hy geen erfdeel onder hulle gegee nie. Want die kinders van Josef was twee stamme: Manasse en Efraim; maar aan die Leviete het hulle geen aandeel in die land gegee nie, behalwe stede om in te woon, met hulle weiveld vir hulle vee en hulle goed. Soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen en die land verdeel.
JOSUA 14:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier volg nou 'n oorsig van die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun het saam met die stamhoofde die gebiede aan die Israeliete toegeken, dit is aan die nege stamme en die halwe stam. Dit is gedoen deur loting soos die Here deur Moses beveel het. Aan die ander twee stamme en die halwe stam het Moses 'n gebied oorkant die Jordaan toegeken, en aan die Leviete het hy nie 'n gebied toegeken saam met die ander nie. Die nageslag van Josef het twee stamme gevorm, Manasse en Efraim, en die Leviete het nie 'n deel van die land ontvang nie, maar wel dorpe om in te woon en weidingsgebiede vir hulle veetroppe. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses beveel het, hulle het die land verdeel.
JOSUA 14:1-5 Die Boodskap (DB)
Wat nou volg, is ’n oorsig van hoe die priester Eleaser en Josua die seun van Nun saam met die familiehoofde die gebiede in Kanaän onder die nege en ’n half stamme van Israel verdeel het. Na aanleiding van die Here se opdrag aan Moses, het hulle lootjies getrek om te bepaal wie kry watter deel. Moses het reeds die gebied oos van die Jordaan aan die twee en ’n half stamme toegeken. Maar die Leviete het nie grond as ’n erfporsie gekry nie. Die nageslag van Josef het twee afsonderlike stamme gevorm, naamlik Manasse en Efraim. Alhoewel die Leviete nie grond as ’n besitting gekry het nie, het hulle wel sekere dorpe gekry waarin hulle kon bly asook weiveld vir hulle vee en ander diere.Die land is streng volgens die Here se opdrag aan Moses verdeel.
JOSUA 14:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier volg nou ’n lys van die grond wat die ander stamme in die land Kanaän gekry het. Die priester Eleasar en Josua, die seun van Nun, het saam met die stamhoofde die grond verdeel. Die deel wat elkeen van die nege en ’n half stamme ontvang het, is deur loting bepaal, soos die HERE deur Moses beveel het. Moses het reeds vir die ander twee en ’n half stamme gebied oorkant die Jordaan gegee. Hy het nie vir die Leviete grond saam met die ander gegee nie. Josef se nageslag het uit die twee stamme Manasse en Efraim bestaan. Die Leviete het nie ’n deel gekry nie, maar wel dorpe om in te woon met weidingsgebied vir hulle vee. Die Israeliete het gemaak soos die HERE vir Moses beveel het. Hulle het die land onder mekaar verdeel.