JOËL 2:12-13
JOËL 2:12-13 Bybel vir almal (ABA)
Maar die Here sê daar is nog tyd. Hy sê: “Julle moet terugkom na My toe. Julle moet My altyd dien, julle moet net vir My dien.” Julle moet vas en huil en treur. Moenie net vir mense wys julle is jammer nie, wys dit vir die Here. Moenie net julle klere skeur nie, skeur julle harte. Julle moet terugkom na julle God die Here toe, want Hy is genadig en goed vir mense wat swaarkry. Hy is geduldig en vol liefde. Hy vergewe mense se sonde maklik.
JOËL 2:12-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil
JOËL 2:12-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep.
JOËL 2:12-13 Die Boodskap (DB)
Die Here sê: Verander julle manier van leef, nou dadelik! Draai terug na My toe. Hou op om te eet omdat julle huil en treur oor al julle sonde. Moenie julle klere skeur om te wys julle is jammer oor julle sondes nie. Julle berou moet uit julle binneste uit kom; julle manier van leef moet verander. Kom terug na die Here julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe.
JOËL 2:12-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar nou sê die HERE: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die HERE julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie.