JOHANNES 9:1-3
JOHANNES 9:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus verder loop, het Hy 'n man gesien wat blind was vandat hy gebore is. Die dissipels het vir Jesus gevra: “ Rabbi, wie se skuld is dit dat hierdie man blind was toe hy gebore is? Is dit hý wat sonde gedoen het of is dit sy ouers wat sonde gedoen het?” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen.
JOHANNES 9:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
JOHANNES 9:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.
JOHANNES 9:1-3 Die Boodskap (DB)
In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is. “Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?” “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen.
JOHANNES 9:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.