JOHANNES 4:43-54

JOHANNES 4:43-54 Bybel vir almal (ABA)

Twee dae later het Jesus na die provinsie Galilea gegaan. Jesus het eendag gesê 'n profeet se eie mense dink nie hy is belangrik nie. Toe Jesus in Galilea kom, was die Galileërs baie vriendelik met Hom. Hulle was ook by die fees in Jerusalem en hulle het alles gesien wat Hy daar gedoen het. Jesus het weer na Kana in Galilea gegaan. Dit is die stad waar Hy die water in wyn verander het. In die stad Kapernaum was daar 'n amptenaar van die koning. Sy seun was baie siek. Die amptenaar het gehoor dat Jesus van die provinsie Judea na Galilea gekom het. Hy het na Jesus toe gegaan. Hy het vir Jesus gevra om na Kapernaum te kom en sy seun gesond te maak, want sy seun was baie siek, hy was amper dood. Jesus het vir hom gesê: “Julle wil altyd wondertekens en wonderwerke sien. As julle dit nie sien nie, dan wil julle nie glo nie!” Die amptenaar van die koning sê toe vir Jesus: “Here, kom asseblief gou voor my seuntjie sterf!” Jesus het vir hom gesê: “Jy mag huis toe gaan. Jou seun sal nie sterf nie.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het en hy het huis toe gegaan. Terwyl hy huis toe gaan, het sy slawe by hom gekom. Hulle het vir hom gesê sy kind is gesond. Die man het vir sy slawe gevra wanneer die kind beter geword het, en hulle het gesê: “Gistermiddag eenuur, toe het hy nie meer koors gehad nie.” Die pa het toe besef dit was dieselfde tyd toe Jesus vir hom gesê het: “Jou seun sal nie sterf nie.” Hy en almal in sy huis het toe in Jesus geglo. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus in Kana gedoen het. Hy het dit gedoen nadat Hy uit Judea in Galilea gekom het.

JOHANNES 4:43-54 Die Boodskap (DB)

Twee dae later is Jesus Galilea toe. Jesus het goed geweet en het ook vir die mense gesê dat ’n profeet nie gerespekteer word deur die mense onder wie hy grootgeword het nie. Toe Hy egter in Galilea aankom, is Hy met oop arms ontvang. Dit was ook maar net omdat die mense daar al die dinge gesien het wat Jesus by die feestelikhede in Jerusalem gedoen het. Hulle self was ook Jerusalem toe vir die paasfees. Jesus is toe Kana toe. Dit is dieselfde dorpie waar Hy die water in wyn laat verander het. Daar was ’n hoë staatsamptenaar wat in Kapernaum vir die koning gewerk het. Sy seun het intussen baie siek geword. Die nuus het by hom uitgekom dat Jesus terug is uit Judea. Hy is dadelik na Jesus toe en het Hom gevra om asseblief saam met hom huis toe te kom. Sy seun was besig om dood te gaan en hy wou hê Jesus moet hom gesond maak. Jesus sê toe: “As dit nie vir al die wonderlike dinge was wat Ek gedoen het nie, sou julle ook maar nie geglo het nie.” Die man hou toe egter vol: “Here, kom tog asseblief gou voordat my kind doodgaan.” Jesus sê toe: “Gaan maar huis toe. Jou seun lewe.” Die man het Jesus vertrou en is terug huis toe. Hy was nog op pad toe sy werkers al met die goeie nuus aankom: “U seun leef!” Hy vra hulle toe uit oor presies wanneer sy seun beter begin word het. “Omtrent so eenuur gistermiddag het sy koors begin breek,” sê hulle. Toe hy mooi terugdink, besef die pa dat dit juis die tyd was toe hy en Jesus gesels het. Jesus het toe mos al vir hom gesê dat sy seun lewe. Hy, saam met almal wat in sy huis bly, het toe in Jesus geglo. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus in Galilea gedoen het nadat Hy teruggekom het uit Judea.

JOHANNES 4:43-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Na twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe vertrek. Hy het self plegtig verklaar dat ’n profeet nie in sy eie vaderland geëer word nie. Toe Jesus in Galilea aankom, het die Galileërs Hom hartlik ontvang. Hulle het al die dinge gesien wat Hy gedurende die fees in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die fees. Jesus het toe weer ’n keer in Kana, in Galilea, aangekom waar Hy vroeër die water in wyn verander het. In Kapernaum was daar ’n sekere koninklike amptenaar wie se seun ernstig siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judea in Galilea aangekom het, het hy vinnig na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om te kom en die seun te genees, want hy was reeds sterwend. Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit tot geloof kom nie.” Die koninklike amptenaar sê toe vir Hom: “Meneer, kom asseblief voordat my seuntjie sterf.” Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek. Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef. Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.” Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy uit Judea in Galilea aangekom het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid