JOHANNES 21:1-19

JOHANNES 21:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Jesus met Tomas gepraat het, het Jesus weer aan die dissipels verskyn. Dit was by die See van Tiberias en dit het so gebeur: Daar was 'n paar dissipels bymekaar. Hulle was Simon Petrus, Tomas, sy ander naam was “Tweeling,” Natanael van die stad Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee van Jesus se dissipels. Simon Petrus het vir die ander dissipels gesê: “Ek gaan visvang.” Hulle sê toe vir hom: “Ons gaan saam met jou.” Hulle het gegaan en hulle het in die boot geklim, maar hulle het daardie nag niks vis gevang nie. Toe dit oggend word, het Jesus langs die see gestaan, maar die dissipels het nie geweet dit is Jesus nie. Jesus vra toe vir hulle: “My vriende, het julle iets gevang om te eet?” Hulle sê vir Hom: “Nee, ons het nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet die visnet regs van die boot uitgooi, dan sal julle iets vang.” Hulle het die visnet uitgegooi in die water. Daar was toe so baie visse in die net dat hulle dit nie kon intrek nie. Die dissipel vir wie Jesus lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bo-kleed aangetrek, want hy het nie al sy klere aangehad nie. Hy het in die see gespring en na Jesus toe gegaan. Die ander dissipels het met die boot gekom en hulle het die visnet gesleep wat vol visse was. Dit was nie ver na die land nie, omtrent 200 el. Die dissipels het uit die boot geklim. Hulle sien toe 'n vuur op die strand, en daar was vis op die kole. Daar was ook brood. Jesus het vir hulle gesê: “Bring van die vis wat julle nou gevang het.” Simon Petrus het in die boot geklim en hy het die visnet op die land getrek. Die visnet was vol groot visse, daar was 153 visse. Daar was baie visse in die net, maar die visnet het nie geskeur nie. Jesus het vir hulle gesê: “Kom eet julle oggend-ete!” Die dissipels wou nie reguit vir Hom vra wie Hy is nie, hulle het geweet dit is die Here. Jesus kom toe en Hy neem van die brood en gee dit vir hulle. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Dit was die derde maal dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat God Hom weer laat lewe het. Toe die dissipels klaar oggend-ete geëet het, sê Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My, meer as die ander dissipels?” Petrus het gesê: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!” Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy my skape laat wei, jy moet sorg vir my mense.” Jesus het die tweede maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?” Petrus sê vir Hom: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!” Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy 'n herder wees vir my mense.” Jesus het die derde maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?” Petrus het baie hartseer geword omdat Jesus die derde maal vir hom gevra het of hy lief is vir Hom. Hy sê toe vir Jesus: “Here, U weet alles! U weet Ek is lief vir U!” Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy sorg vir my mense. Petrus, Ek sê vir jou, en dit is seker: Toe jy jonk was, het jy self jou klere vasgemaak en jy het gegaan waar jy wil. Maar jy sal oud word en jy sal jou hande uitsteek en iemand anders sal jou klere vasmaak en hy sal jou wegneem na 'n plek waar jy nie wil wees nie.” Toe Jesus dit gesê het, het Hy verduidelik hoe Petrus later sal sterf en vir God sal eer. Toe het Jesus vir Petrus gesê: “Kom saam met My!”

JOHANNES 21:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

NA hierdie dinge het Jesus weer aan sy dissipels verskyn by die see van Tibérias, en Hy het só verskyn: Daar was bymekaar Simon Petrus en Thomas wat Dídimus genoem word, en Natánael van Kana in Galiléa en die seuns van Sebedéüs en twee ander van sy dissipels. Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie. En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie. En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee. En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie. Daarop sê die dissipel — die een vir wie Jesus liefgehad het — aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om — want hy was naak — en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el. En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was. En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode. Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en 'n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.

JOHANNES 21:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur: Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam. Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang.” “Ons gaan ook saam met jou,” sê hulle vir hom. Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” “Nee,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.” Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

JOHANNES 21:1-19 Die Boodskap (DB)

Daar was nog ’n geleentheid toe Jesus so saam met sy dissipels was. Dit was by die Meer van Tiberias (die ander naam is die See van Galilea). So het dit gebeur: ’n klompie van Jesus se getrouste volgelinge was bymekaar (dit was Simon Petrus, Tomas Tweeling, Natanael - hy het uit Kana in Galilea gekom - Sebedeus se seuns en nog twee ander). Petrus was lus om te gaan visvang. Die ander is toe saam met hom. Hulle is met ’n skuit die meer in. Daardie hele nag lank het hulle iets probeer kry, maar hulle het nie ’n enkele vis gevang nie. Toe die son begin kop uitsteek, staan Jesus daar op die wal. Die dissipels was natuurlik salig onbewus daarvan dat dit Jesus was. “En toe,” roep Jesus, “het julle enigiets gevang?” “Nee wat,” roep hulle terug. “Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,” kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie. Dit was te swaar vir hulle. Die volgeling van wie Jesus baie gehou het, sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, pluk hy gou al sy klere aan. Omdat hulle op die skuit gewerk het, het hy net die nodigste aangehad. Toe spring hy in die meer. Die ander het in die skuit gebly en wal toe gevaar met die vrag vis. Gelukkig was hulle nie so ver van die wal af nie, omtrent 100 tree. Toe hulle daar land, sien hulle dat daar alreeds ’n vuurtjie brand met vis wat daarop braai. En daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring nog ’n bietjie van daardie vis wat julle gevang het.” Simon Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie. “Kom, eet ’n stukkie ontbyt,” nooi Jesus hulle uit. Nie een van hulle het die moed gehad om te vra: “Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie. Hulle het geweet dit is die Here. Jesus gee toe vir elkeen van hulle brood en ’n stukkie vis. Dit was die derde keer dat Jesus so aan sy getroue volgelinge verskyn het nadat Hy uit die dood opgestaan het. Na ete vra Jesus vir Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My liewer as wat hierdie ander My het?” “Ja, Here,” kom dit van Petrus. “U weet hoe toegewy en lojaal ek teenoor U is.” “Kyk dan asseblief na my lammers,” vra Jesus toe. ’n Tweede keer vra Jesus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here. U weet mos hoe lief ek U het,” sê Petrus weer. “Pas dan asseblief my skape soos ’n herder op,” vra Jesus. ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief? Kan Ek heeltemal op jou lojaliteit staatmaak?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus so aanhou. “Here,” sê hy toe, “U hoef nie eens te vra nie, want U weet alles; ook wat in my hart aangaan. U weet mos hoe lief ek vir U is.” “Sorg dan vir my skape,” sê Jesus. “Ek wil vir jou iets belangriks sê. Toe jy jonk was, het jy self aangetrek en jy kon stap waar jy wou. Maar as die ouderdom jou inhaal, sal jy dit nie eens meer kan doen nie. Jy sal maar net jou hande vraend kan uitsteek. Ander sal dan kom en jou aantrek en jou dra waar jy nie wil wees nie.” (Daarmee het Jesus gesinspeel op die manier waarop Petrus sou sterf. Met sy dood sou hy in alle geval vir God eer.) “Kom saam met My,” sê Jesus toe vir Petrus.

JOHANNES 21:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Jesus weer aan sy dissipels by die Meer van Tiberias verskyn. Dit het só gebeur. Die volgende dissipels was daar saam: Simon Petrus en Tomas (wat ook Didimus genoem is), Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee ander. Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” Hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het in die skuit gaan klim, en het daardie nag niks gevang nie. Net ná dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan, maar sy dissipels was nie daarvan bewus dat dit Hý is nie. Hy vra toe vir hulle: “Kinders, het julle nie iets om te eet nie?” Hulle antwoord vir Jesus was net: “Nee.” Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.” Hulle het die net toe uitgegooi, en kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis. Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy klere aangetrek, want hy was halfpad kaal, en hy het in die water gespring. Die ander dissipels het solank met die bootjie nadergekom, want hulle was nie ver van die land af nie, ongeveer 100 meter, en hulle het die net met visse land toe gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuurtjie met ’n vis wat daarop lê, en daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle so pas gevang het.” Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie. Jesus het hulle uitgenooi: “Kom kry ontbyt.” Nie een van sy dissipels het dit gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het net geweet dat dit die Here is. Jesus het nadergekom, die brood geneem en aan hulle uitgedeel, net so ook die vis. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?” Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.” Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus. Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.” ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape. Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.” Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik. Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid