JOHANNES 20:1-18

JOHANNES 20:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Vroeg die Sondag-oggend het Maria Magdalena na Jesus se graf gegaan. Dit was nog donker. Sy het gesien die klip voor die graf is weg. Toe hardloop sy na Simon Petrus en die ander dissipel, die dissipel vir wie Jesus lief was. Sy het vir hulle gesê: “Iemand het die Here se liggaam weggeneem uit die graf en ons weet nie waar hy Hom gesit het nie.” Petrus en die ander dissipel het na die graf gegaan. Hulle het saam na die graf gehardloop. Maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en hy het eerste by die graf gekom. Hy het gebuk en in die graf gekyk. Hy het gesien die grafdoeke lê daar, maar hy het nie ingegaan in die graf nie. Ná die dissipel vir wie Jesus lief was, het Simon Petrus ook daar gekom. Petrus het ingegaan in die graf en hy het gesien die grafdoeke lê daar. Hy het ook die doek gesien wat om Jesus se kop was. Die doek het nie by die ander grafdoeke gelê nie. Iemand het dit opgevou, en dit was op 'n ander plek. Die ander dissipel wat eerste by die graf was, het toe ook ingegaan. Hy het gesien Jesus se liggaam is nie daar nie en hy het geglo. Die Ou Testament sê Jesus sal weer lewe, maar die dissipels het dit nog nie verstaan nie. Toe het die twee dissipels weer teruggegaan. Maria het by die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vorentoe gebuk en sy het ingekyk in die graf. Sy sien toe twee engele. Hulle het wit klere aangehad. Hulle het gesit op die plek waar Jesus se liggaam gelê het. Een engel het gesit waar sy kop was, en die ander engel waar sy voete was. Die twee engele het vir haar gevra: “Mevrou, hoekom huil jy?” Sy het gesê: “Hulle het my Here se liggaam weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom gesit het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai. Sy sien toe vir Jesus, Hy het daar gestaan, maar sy het nie geweet dit is Jesus nie. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, hoekom huil jy? Vir wie soek jy?” Maria het gedink dit is die man wat daar in die tuin werk. Daarom het sy vir Hom gesê: “Meneer, het jy my Here weggeneem? As jy Hom weggeneem het, sê dan vir my waar jy Hom gesit het. Dan kan ek Hom gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Toe draai sy na Jesus en sê: “Rabboeni!” Rabboeni is 'n Hebreeuse woord, dit beteken “My Meneer.” Jesus het vir haar gesê: “Jy moenie aan My raak nie, want Ek moet nog na my Vader in die hemel gaan. Jy moet teruggaan na my broers, die dissipels. Gaan sê vir hulle Ek gaan na my Vader en my God. Hy is nou ook julle Vader en julle God.” Maria Magdalena het vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” Sy het vir hulle vertel wat Jesus vir haar gesê het.

JOHANNES 20:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. Toe gaan Petrus en die ander dissipel uit en kom by die graf. En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom. En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo. Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie. En die dissipels het weer huis toe gegaan. MAAR Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem. Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester. Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. Maria Magdaléna het aan die dissipels gaan vertel dat sy die Here gesien het en dat Hy dit vir haar gesê het.

JOHANNES 20:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ” Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

JOHANNES 20:1-18 Die Boodskap (DB)

Daardie Sondagmôre was die son nog nie eens op nie, toe was Maria Magdalena al by die graf. Sy het dadelik gesien dat iemand die groot klip voor die ingang van die graf weggerol het. Toe sy dit agterkom, vlieg sy om en hardloop na Simon Petrus en die ander dissipel toe (dit was die een van wie Jesus baie gehou het). “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg!” hyg sy. “Ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.” Petrus storm toe saam met die ander dissipel uit die huis uit. Hulle sit dadelik af graf toe. Die ander dissipel het vir Petrus weggehardloop en eerste by die graf gekom. Hy steek toe by die ingang vas en loer by die graf in. Net die linne het daar eenkant gelê. Toe Petrus daar aankom, bars hy sommer by die graf in. Hy het ook net die linne daar sien lê. Die spesiale lap wat hulle op Jesus se gesig gesit het, het nie by die ander linne gelê nie. Dit het eenkant alleen gelê, mooi opgevou. Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is. Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe. Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer. Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete. “Vir wat huil jy so?” vra hulle haar. “Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer. Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie. Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?” Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.” “Maria!” sê Jesus. Sy swaai vinnig om. “Rabbi!” roep sy in Hebreeus uit. (Die naam verwys na iemand wat mense leer.) “Moenie My vashou nie,” sê Jesus. “Ek het nog nie na my Vader toe teruggegaan nie. Gaan liewer gou terug na my broers toe. Gaan sê vir hulle: Ek gaan terug na my Vader en julle Vader; ja, Ek is op pad na my God en julle God.” Maria Magdalena is toe daar weg na die ander volgelinge van Jesus toe. “Ek het die Here nou net lewendig gesien!” roep sy uit. Opgewonde vertel sy alles wat Jesus gesê het.

JOHANNES 20:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê, én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe. Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk. Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant. Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken “Leermeester”. Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.” Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!” Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid