JEREMIA 2:2-7
JEREMIA 2:2-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Gaan roep uit ten aanhore van Jerusalem, ‘So sê die HERE: “Ek onthou jou – die trou van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, hoe jy my gevolg het in die woestyn, in 'n land waar nie gesaai word nie. Israel was heilig vir die HERE, die eerste vrugte van sy opbrengs. Almal wat daarvan sou eet, sou skuldig wees – onheil sou hulle oorval,” ’ ” is die uitspraak van die HERE. Hoor die woord van die HERE, huis van Jakob, en al die familiegroepe van die huis van Israel! So sê die HERE: “Watter onreg het julle voorouers by My gevind, dat hulle hulle aan My onttrek het, nuttelose afgode gevolg en self nutteloos geword het? Hulle het nie gevra nie, ‘Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons in die woestyn gelei het – in 'n land van woestynvlaktes en afgronde, 'n land van droogte en diepe duisternis, 'n land waardeur niemand trek nie, en waar geen mens woon nie?’ Ek het julle gebring na 'n land met boorde, om die vrugte en die goeie daarvan te geniet. Maar julle het ingekom en my land verontreinig; van my eiendom het julle iets afstootliks gemaak.
JEREMIA 2:2-7 Die Boodskap (DB)
“Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal dit kan hoor. Die Here sê: Ek onthou nog lank gelede toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Toe wou julle My so graag tevrede stel. Julle was selfs bereid om My deur die dorre woestyn te volg waar daar geen landerye vir kos was nie. In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Ek het oor hulle gevoel soos ’n mens voel oor die eerste deel van die oes wat van die landerye af kom. Niemand mag dit waag om aan hulle te vat nie. Ek sou enigiemand wat hulle wou seermaak, se lewe ellendig maak.” Luister na wat die Here sê, mense van Israel! Al die families van Israel, julle ook! Die Here sê: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers nie meer in My belanggestel het nie? Hulle het sommer agter nikswerd afgode begin aanloop. Deur dit te doen het hulle self nikswerd mense geword. Julle voorouers het nie eens gedink om te vra: ‘Waar is die Here wat ons uit Egipte gebring het, wat ons deur die woestyn gelei het?’ nie. Die land was woes en baie moeilik om deur te trek. Daar was ook nie water nie. Niemand het eens kans gesien om hier te probeer lewe of deur te ry of te loop nie, want dit was ’n verskriklik gevaarlike stuk land. En tog het Ek, die Here, hulle veilig hierdeur gevat!” Die Here sê verder: “Ek het julle na ’n land gebring waar alles baie goed groei. Ek wou hê dat julle die vrugte en die goeie dinge wat die land gee, geniet. Maar wat het julle gedoen? Julle het in my land ingekom en dit met julle afgode bemors. Julle het die land wat julle van My sou erf iets gemaak om te haat.
JEREMIA 2:2-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal kan hoor: So sê die HERE: “Ek onthou nog die toewyding van jou jeug, toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Julle was toe bereid om My deur die dorre woestyn te volg, deur ’n dorre woestyn. In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Hy was vir My die belangrikste van my kinders. Almal wat my volk te na gekom het, was skuldig. Rampe het oor hulle gekom, sê die HERE.” Luister na die boodskap van die HERE, huis van Jakob, luister, al die families van Israel! Die HERE vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers so ver weggedwaal het van My af? Hulle het afgode gedien wat nikswerd is. Deur dit te doen, het hulle self waardeloos geword. Hulle het nie eers gedink om te vra nie: ‘Waar is die HERE wat ons veilig uit Egipte gebring het en ons deur die woestyn gelei het? Die land was droog en vol slote, dor met donker skaduwees. Niemand trek daardeur nie. Geen mense woon daar nie.’ Ek het julle gebring na ’n vrugbare land sodat julle die vrugte en die goeie dinge van die land moes geniet. Maar toe julle in my land kom, het julle dit besoedel. Julle het wat Ek vir julle laat erf het, veragtelik gemaak.
JEREMIA 2:2-7 Bybel vir almal (ABA)
“Gaan praat met die mense van Jerusalem. Hulle moet goed hoor wat jy sê. Jy moet vir hulle sê Ek sê: “Jerusalem, jy was vir My soos 'n bruid. So onthou Ek jou. Jy was lief vir My toe jy jonk was, toe jy my bruid was. Jy het saam met My geloop in die woestyn, die plek waar mense nie koring saai nie. Israel is net Myne, hulle is soos die eerste koring-are, en Ek sal almal swaar straf wat van hierdie koring-are eet.” Dit het die Here gesê. Nageslag van Jakob, al die families van Israel, julle moet luister na wat die Here sê. Die Here vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen teen julle voorvaders? Hoekom het hulle weggegaan van My? Hoekom het hulle saam met afgode geloop, afgode wat niks beteken nie? So het julle voorvaders self niks geword. “Hulle het nie gevra: “ ‘Waar is die Here wat vir ons uit Egipte gebring het, die Here wat ons deur die woestyn gebring het?’ nie. Dit is 'n droë plek waar dit baie gevaarlik is, 'n plek waar daar nie water is nie en waar dit donker is, 'n plek waar niemand kom nie en waar niemand woon nie. Ek het julle gebring in 'n land vol vrugtebome waar julle lekker kon eet van alles, maar toe het julle my land onrein gemaak. Julle het die land wat aan My behoort, vuil gemaak met julle sonde.
JEREMIA 2:2-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Gaan en roep uit voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die HERE: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in 'n onbesaaide land. Israel was vir die HERE 'n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal skuld op hulle laai, onheil sal oor hulle kom, spreek die HERE. Hoor die woord van die HERE, huis van Jakob, en alle geslagte van die huis van Israel! So sê die HERE: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het? En hulle het nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in 'n land van wildernis en kuile, in 'n land van droogte en doodskaduwee, in 'n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie? En Ek het julle gebring in 'n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis 'n gruwel gemaak.
JEREMIA 2:2-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in 'n wêreld waar niks geplant word nie. Israel was toe aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes. Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie, rampe het hom getref, sê die Here. Hoor die woord van die Here, mense van Jakob, al julle stamme van Israel! So sê die Here: Waarin het Ek gefaal dat julle voorvaders van My af weggedraai het, dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het? Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur 'n droë wêreld vol slote, deur 'n dor land vol doodsgevaar, deur 'n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie. Ek het julle in 'n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.
JEREMIA 2:2-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Gaan roep voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die HERE; Ek dink aan jou, die goedertierenheid van jou jeug, die liefde vir jou huwelik, toe jy agter my aan gegaan het in die woestyn, in 'n land wat nie besaai is nie. Israel was heilig vir die HERE en die eersteling van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal aanstoot gee; onheil sal oor hulle kom, spreek die HERE. Hoor die woord van die HERE, o huis van Jakob, en al die geslagte van die huis van Israel! So sê die HERE: Watter ongeregtigheid het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My af weggegaan het en agter nietigheid aan gewandel en nietig geword het? Hulle het ook nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons deur die woestyn gelei het, deur 'n land van woestyn en van kuile, deur 'n land van droogte en doodskaduwee, deur 'n land waar niemand deurgegaan het en waar niemand gewoon het nie? En Ek het julle in 'n land van oorvloed gebring, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle ingegaan het, het julle my land verontreinig en my erfdeel 'n gruwel gemaak.