RIGTERS 7:9-15
RIGTERS 7:9-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daardie nag het die HERE vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand. En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was. En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte. En toe Gídeon aankom, vertel 'n man aan 'n ander juis 'n droom en sê: Kyk, ek het 'n droom gehad: Daar rol 'n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar! En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee. Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want die HERE gee die laer van die Midianiete in julle hand.
RIGTERS 7:9-15 Bybel vir almal (ABA)
Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet die Midianiete se kamp gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle. Maar as jy bang is om hulle aan te val, dan moet jy en Pura, die seun wat by jou is, eers na die kamp gaan en luister na wat hulle praat. Dan sal jy nie meer bang wees om hulle aan te val nie.” Gideon en Pura het toe afgegaan tot by die kant van die kamp. Die manne in die kamp was gereed om oorlog te maak. Daar was baie Midianiete en Amalekiete en Oosmense in die vallei. Hulle was so baie soos sprinkane. Niemand kon hulle kamele tel nie, want hulle was so baie soos die sand by die see. Toe Gideon by die kamp kom, was 'n man besig om vir sy maat te vertel wat hy gedroom het. Hy het gesê: “Ek het gedroom ek sien 'n ronde garsbrood wat deur die kamp rol. Dit het tot teen ons tent gerol en die tent omgestamp. Die tent het geval, en die brood het bo-oor die tent gerol.” Die man se maat sê toe: “Dit beteken die Israeliet, Gideon seun van Joas, kom oorlog maak teen ons, en God sal hom laat wen teen die Midianiete en hierdie hele kamp.” Toe Gideon hoor van die droom en wat dit beteken, het hy gebuig en hy het die Here geprys. Hy het teruggegaan na die kamp van die Israeliete, en gesê: “Kom, die Here sal julle laat wen teen die leër van die Midianiete.”
RIGTERS 7:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié nag het die Here vir hom gesê: “Kom, gaan na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle in jou mag oor. Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan. Luister wat hulle sê, dan sal jy moed skep en hulle aanval.” Gideon en sy slaaf Pura is toe sowat vyftig tree in die Midianiete se kamp in. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see. Gideon het in die kamp ingekom net toe 'n man vir sy maat hierdie droom vertel: “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom 'n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die brood het die tent omgestamp en die tent het inmekaargetuimel.” Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas. God gee Midian en sy hele leër in Gideon se mag oor.” Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, het hy die Here gedank en na die Israeliete se kamp toe teruggegaan en gesê: “Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor.”
RIGTERS 7:9-15 Die Boodskap (DB)
Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op! Val die Midianiete se kamp aan, want ek gee hulle in jou mag oor. Maar as jy dalk bang is om hulle aan te val, vat jou dienaar Pura en gaan saam met hom na hulle kamp toe. Gaan luister ’n bietjie wat hulle te sê het. Dit sal jou laat moed skep. Daarna sal jy bereid wees om hulle aan te val.” Gideon en Pura is toe daar weg en het tot by die kant van die Midianiete se kamp gekruip. Die soldate van die Midianiete, die Amalekiete en die mense uit die ooste was so baie dat hulle soos ’n swerm sprinkane daar in die vallei gelyk het. Hulle kamele was so baie soos die sandkorrels van die see, te veel om te tel. Gideon het net betyds daar aangekom om te hoor hoe iemand vir sy vriend van sy droom vertel. “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in die kamp ingerol. Dit het tot teen die tent gerol en dit omgestamp en inmekaar laat val.” Sy vriend het gesê: “Dit kan net een ding beteken. God het die Midianiete en hulle hele leër in die mag van die Israeliet Gideon die seun van Joas oorgegee!” Toe Gideon die droom en die betekenis daarvan hoor, het hy vir die Here dankie gesê. Hy is toe terug kamp toe. Daar aangekom, het hy vir die Israeliete gesê: “Kom, die Here het klaar vir ons die oorwinning oor die Midianiete gegee.”
RIGTERS 7:9-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daardie nag het die HERE vir Gideon gesê: “Staan op en gaan af na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle oor aan jou. As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.” Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp. Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand. Gideon het toe nader gesluip. In die kamp was ’n man juis besig om vir sy makker te vertel wat hy gedroom het. “Ek het gedroom,” het hy vertel, “daar kom ’n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ’n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.” Sy maat het geantwoord: “Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon, die seun van Joas, nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.” Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die HERE gedank. Hy het teruggegaan na die Israeliete se kamp. Hy het sy manskappe opgeroep: “Staan op! Die HERE gee die Midianiete oor aan julle.”