RIGTERS 5:24-30
RIGTERS 5:24-30 Bybel vir almal (ABA)
Maar met Jael sal dit beter gaan as met al die ander vroue, Jael vrou van Geber die Keniet, dit sal met haar beter gaan as met die ander vroue in die tente. Sisera het water gevra, maar sy het vir hom melk gegee, sy het dikmelk gebring in 'n pragtige bak. Sy het 'n tentpen gevat met die een hand en met die ander hand 'n hamer, en sy het vir Sisera doodgemaak. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het tussen haar voete geval en daar gelê, hy het geval en daar dood gelê. “Sisera se ma het by die venster uitgekyk, sy het deur die venster se tralies gekyk, sy het gehuil en gevra: ‘Hoekom kom sy oorlogkar nie? Hoekom hoor ons hom nie kom nie?’ Die slimste van die vroue wat haar help, het geantwoord. Sy en Sisera se ma het saam gesê: ‘Ek dink hulle deel die goed uit wat hulle gevat het: Elke man kry een of twee meisies, Sisera kry mooi bont klere, en óns kry nekdoeke met baie kleure.’
RIGTERS 5:24-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Mag bo die vroue geseënd wees Jael, die vrou van Heber, die Keniet; geseënd wees bo die vroue in die tent! Water het hy gevra, melk het sy gegee, in 'n sierlike skottel het sy dikmelk gebring. Haar hand steek sy uit na die tentpen en haar regterhand na die werksman se hamer; en sy hamer Sísera, verpletter sy kop en verbrysel en deurboor die slaap van sy hoof. Tussen haar voete sak hy inmekaar, val, lê daar! Tussen haar voete sak hy inmekaar, val; waar hy inmekaarsak, daar lê hy — morsdood. Deur die venster kyk die moeder van Sísera uit, en sy roep deur die venstertralie: Waarom vertoef sy wa om te kom? Waarom versuim die passe van sy wa-span? Die skranderste van haar vorstinne antwoord haar, ja, sy self antwoord op haar woorde: Hulle het seker buit gevind en verdeel dit: een slavin, twee slavinne vir elke man; 'n buit van bont klere vir Sísera, 'n buit van bont klere, veelkleurige; 'n bont doek, twee veelkleuriges as buit vir my hals.
RIGTERS 5:24-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Geseënd is Jael vrou van Geber die Keniet, meer geseënd as al die vrouens, die vrouens wat in tente woon. Sisera het water gevra, sy het hom melk gegee, in 'n koningsbeker het sy vir hom dikmelk gegee. In haar hand het sy die tentpen vasgevat, in haar regterhand die werksman se hamer. Sy het vir Sisera daarmee getref, sy kop papgeslaan, sy het die slaap van sy kop verbrysel, dit deurboor. By haar voete het hy neergesak, geval en bly lê, by haar voete het hy neergesak en geval; waar hy neergesak het, het hy geval, morsdood. “Sisera se ma het deur die venster gekyk, sy het by die traliewerk gestaan en gekla: ‘Waarom talm sy strydwa om te kom, waarom bly die gedreun van sy strydwawiele weg?’ “Haar slimste hofdame antwoord haar en sy sê die woorde agterna: ‘Hulle het 'n groot buit in die hande gekry, hulle verdeel dit: 'n meisie of twee vir elke soldaat; gekleurde klere as buit vir Sisera; gekleurde weefwerk as buit, gekleurde doeke vir my nek, dit is die buit!’
RIGTERS 5:24-30 Die Boodskap (DB)
“Gelukkig is Jael. Sy is Geber die Keniet se vrou, sy is gelukkiger as al die ander vroue wat in tente woon. Sisera het water gevra, sy het vir hom melk gegee; heerlike dikmelk in ’n pragtige beker. Toe het sy met haar linkerhand ’n tentpen gevat en met haar regterhand ’n hamer. Sy het vir Sisera daarmee geslaan, sy kop inmekaargeslaan, sy het die tentpen reg deur sy slape geslaan. Hy het voor haar voete inmekaargesak en net daar bly lê. Morsdood! “Sisera se ma het deur die venster bly kyk, sy het by die vensterraam bly staan en vra: ‘Waarom kom sy strydwa dan nie aan nie, hoekom hoor ek nie die geluid van sy strydwa se wiele nie?’ “Haar slimste raadgeefsters het haar geantwoord en sy het die woorde vir haarself bly herhaal: Hulle het ’n groot buit in die hande gekry, en hulle is besig om dit te verdeel: ’n meisie of twee vir elke soldaat, pragtige klere vir Sisera, pragtige gekleurde weefwerk en doeke vir my om te dra, dit is die buit.
RIGTERS 5:24-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Van al die vroue moet Jael, die vrou van Geber die Keniet, geseën word. Sy moet meer geseën word as al die vroue wat in tente bly. Sisera het vir water gevra. Sy het vir hom melk gegee. In ’n pragtige houer het sy dikmelk gegee. In haar linkerhand het sy die tentpen gevat, in haar regterhand die dryfhamer. Sy het vir Sisera deurboor, sy kop verbrysel, hom pap geslaan en sy slape deurboor. Hy het ineengestort, geval, en by haar voete gelê. Hy het geval, en waar hy by haar voete inmekaargestort het, het hy morsdood bly lê. “Sisera se ma het uit die venster ondertoe gekyk. Sy het by die hortjies staan en sug. Sy het gevra: ‘Waarom vat sy oorlogwa so lank om terug te kom? Hoekom bly die gedreun van sy wiele weg?’ Een van haar wyse prinsesse antwoord haar. Sy herhaal haar woorde: ‘Hulle verdeel die groot buit wat hulle verower het. Vir elke soldaat ’n meisie of twee. Gekleurde klere as buit vir Sisera, gekleurde borduurwerk as buit, gekleurde borduurwerk vir my nek as buit.’