RIGTERS 4:17-22
RIGTERS 4:17-22 Bybel vir almal (ABA)
Sisera het gehardloop en gevlug na die tent van Jael, die vrou van die Keniet Geber. Daar was vrede tussen die familie van die Keniet Geber en koning Jabin van Hasor. Jael het vir Sisera gaan ontmoet. Sy het vir hom gesê: “Kom, Meneer, kom na my toe. Moenie bang wees nie.” Sisera het na haar tent gekom, en sy het hom laat wegkruip onder 'n kombers. Hy het vir haar gesê: “Ek is dors. Gee vir my asseblief 'n bietjie water om te drink.” Sy het die melksak oopgemaak en vir hom melk gegee om te drink. Daarna het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Jy moet by die tentdeur staan, en as iemand vir jou vra of hier iemand is, dan moet jy sê: ‘Nee.’ ” Sisera was moeg en hy het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe 'n tentpen en 'n hamer gevat en saggies na Sisera toe gegaan. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het gesterf. Barak het vir Sisera kom soek, en Jael het na Barak toe gegaan. Sy het vir hom gesê: “Kom, ek sal vir jou die man wys wat jy soek.” Barak het na haar tent gekom, en toe lê Sisera daar dood. Die tentpen was deur sy kop.
RIGTERS 4:17-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet; want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet. En Jael het uitgegaan Sísera tegemoet en vir hom gesê: Draai uit, my heer, draai uit na my! Moenie bang wees nie! En hy het na haar uitgedraai, na die tent, en sy het hom met 'n kombers toegemaak. Daarop sê hy vir haar: Gee my tog 'n bietjie water om te drink, want ek het dors; sy maak toe die melksak oop en laat hom daaruit drink en maak hom weer toe. En hy sê vir haar: Gaan staan by die tentdeur, en as iemand kom en jou vra en sê: Is hier iemand? antwoord dan: Nee. Toe neem Jael, die vrou van Heber, 'n tentpen en vat die hamer in haar hand en gaan stilletjies na hom en dryf die pen terwyl hy vas aan die slaap was dwarsdeur die slaap van sy hoof, sodat dit in die grond indring. So het hy dan bewusteloos geword en gesterwe. En kyk, terwyl Barak Sísera agtervolg, gaan Jael uit hom tegemoet en sê vir hom: Kom, en ek sal u die man wys wat u soek; en toe hy by haar inkom, lê Sísera daar dood, met die pen deur die slaap van sy hoof!
RIGTERS 4:17-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer. Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!” Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter 'n gordyn weggesteek. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my 'n bietjie water om te drink.” Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!” Jael die vrou van Geber het toe 'n tentpen gevat en met 'n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood. Barak was besig om vir Sisera te agtervolg, en Jael het na Barak toe gegaan. Toe sê sy vir hom: “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.” Toe Barak by haar kom, lê Sisera daar dood met 'n tentpen deur sy slaap.
RIGTERS 4:17-22 Die Boodskap (DB)
Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!” Sisera was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Jael het toe ’n hamer en ’n tentpen gevat en stilletjies na die slapende Sisera toe gegaan. Sy het die tentpen met die hamer deur sy kop tot in die grond ingeslaan. So is Sisera dood. Toe Barak daar aankom op soek na Sisera, het Jael na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Kom hier, dan wys ek jou die man wat jy soek.” Hy het haar die tent in gevolg en daar het hy Sisera gekry met die tentpen deur sy slaap.
RIGTERS 4:17-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber die Keniet. Daar was ’n goeie vriendskapsverhouding tussen koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet. Jael het uitgekom om Sisera te ontvang. Sy het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer! Kom na my toe. Moenie bang wees nie!” Hy gaan toe in haar tent in. Sy het hom onder ’n deken weggesteek. “Gee tog vir my ’n bietjie water om te drink,” het hy vir haar gevra. “Ek is dors.” Sy het hom toe melk uit die melksak laat drink. Sy het hom weer onder die deken toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die ingang van die tent. As hier iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk ’n man by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!’” Sisera was moeg en het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe een van die tentpenne gevat en met ’n hamer in haar hand stilletjies na Sisera gesluip. Sy het die tentpen dwarsdeur sy slaap gedryf tot in die grond sodat hy gesterf het. Barak was op soek na Sisera. Jael het uitgekom na hom toe. Sy sê toe vir hom: “Kom hier, ek sal jou wys waar is die man na wie jy soek.” Barak het agter haar aan gegaan. Hy kry toe vir Sisera wat dood daar lê met ’n tentpen deur sy slaap.