RIGTERS 16:4-22

RIGTERS 16:4-22 Bybel vir almal (ABA)

Later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorek-vallei. Haar naam was Delila. Die leiers van die Filistyne het na haar toe gekom en vir haar gesê: “Jy moet by Simson uitvind hoekom hy so sterk is en hoe ons hom kan vasbind sodat hy nie kan loskom nie. Elkeen van ons sal dan vir jou 1 100 stukke silwer gee.” Delila het vir Simson gevra: “Sê asseblief vir my hoekom is jy so sterk en waarmee kan 'n mens jou vasbind sodat jy nie kan loskom nie?” Simson het vir haar gesê: “As mense my vasbind met sewe nuwe boogsnare wat nog nie droog geword het nie, dan sal ek niks kan doen nie. Ek sal soos ander mense wees.” Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe nuwe boogsnare gebring wat nog nie droog geword het nie, en sy het vir Simson daarmee vasgebind. Daar het manne by haar gelê en wag in die kamer. Sy het vir Simson gesê: “Simson, hier is die Filistyne!” Simson het die boogsnare stukkend geruk soos 'n dun garingdraad wat naby die vuur kom. Die Filistyne het nog nie geweet hoekom hy so sterk is nie. Delila het vir hom gesê: “Jy het vir my 'n leuen vertel en my bedrieg. Sê nou asseblief vir my waarmee kan 'n mens jou vasbind.” Simson sê toe vir haar: “As mense my styf vasbind met nuwe toue wat hulle nog nooit gebruik het nie, dan sal ek niks kan doen nie. Ek sal soos ander mense wees.” Delila het nuwe toue geneem en sy het hom daarmee vasgebind en vir hom gesê: “Simson, hier is die Filistyne!” Daar het weer manne gelê en wag in die kamer. Maar Simson het die toue stukkend gebreek soos garing. Delila het vir hom gesê: “Jy het weer vir my 'n leuen vertel en my bedrieg. Sê asseblief vir my hoe kan 'n mens jou vasbind.” Simson sê toe vir haar: “Ek sal swak wees as jy my sewe haarlokke vas weef in die materiaal op jou weefstoel.” Sy het dit gedoen en sy het alles ook vasgesteek met 'n pen. Toe sê sy vir hom: “Simson, hier is die Filistyne!” Hy het wakker geword en die pen, die wewerspoel en die materiaal alles van die weefstoel afgeruk. Delila het vir hom gesê: “Jy sê jy is lief vir my, maar jy wil nie vir my die waarheid sê nie. Jy het my nou al drie maal bedrieg en jy het nie vir my gesê hoekom jy so sterk is nie.” Delila het die hele dag aangehou vra, sy het nie opgehou nie. Simson het later begin wens hy is dood. En toe vertel hy vir haar die waarheid. Hy het gesê: “Ek het nooit my hare laat afskeer nie, want ek is 'n nasireër van God vandat ek gebore is. As iemand my hare afskeer, dan sal ek nie meer sterk wees nie, ek sal soos ander mense wees.” Delila het toe geweet Simson het vir haar die waarheid vertel en sy het die leiers van die Filistyne laat roep. Sy het vir hulle gesê: “Julle moet kom. Hierdie maal het hy vir my die waarheid vertel.” Die leiers van die Filistyne het na Delila toe gekom en hulle het die geld saamgebring. Sy het Simson aan die slaap gemaak met sy kop op haar skoot. Sy het daarna iemand geroep en toe het sy Simson se hare afgeskeer. Toe was Simson nie meer sterk nie, en sy het hom vasgedruk. Sy het gesê: “Simson, hier is die Filistyne!” En toe Simson wakker word, het hy gedink: Ek sal weer loskom, soos voorheen, ek sal my losruk. Simson het nie geweet die Here is nie meer by hom nie. Die Filistyne het hom gegryp en hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na die stad Gasa gebring. Daar het hulle hom met koperkettings vasgebind. Hy moes in die tronk die koringmeul draai. Later het sy hare weer lank geword, dit was soos voor Delila dit laat afskeer het.

RIGTERS 16:4-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarna het hy 'n vrou in die dal Sorek liefgekry, wie se naam Delíla was. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en sê vir haar: Haal hom oor en vind uit waardeur sy krag so groot is, en waardeur ons hom kan oorweldig en hom kan bind om hom te bedwing; dan sal ons jou elkeen elfhonderd sikkels silwer gee. Toe vra Delíla vir Simson: Vertel my tog waardeur jou krag so groot is, en waarmee jy gebind kan word om jou te bedwing. En Simson sê vir haar: As hulle my bind met sewe vars lyne wat nie uitgedroog is nie, dan sal ek swak word en wees soos 'n ander mens. Daarop het die vorste van die Filistyne vir haar sewe vars lyne gebring wat nie uitgedroog was nie, en sy het hom daarmee gebind. En terwyl haar spioene in die kamer klaarsit, sê sy vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! Toe verbreek hy die lyne soos 'n vlasdraad breek as dit vuur ruik; maar sy krag het nie bekend geword nie. Toe sê Delíla vir Simson: Kyk, jy het my bedrieg en vir my leuens vertel; vertel my nou tog waarmee jy gebind kan word. En hy antwoord haar: As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee geen werk gedoen is nie, dan sal ek swak word en wees soos 'n ander mens. Toe het Delíla nuwe toue geneem en hom daarmee gebind en vir hom gesê: Die Filistyne op jou, Simson! terwyl die spioene in die kamer klaarsit; maar hy het dit soos 'n draad van sy arms af verbreek. En Delíla sê vir Simson: Tot nou toe het jy my bedrieg en vir my leuens vertel; vertel my waarmee jy gebind kan word. En hy antwoord haar: As jy die sewe haarvlegsels van my hoof met die weefsel saam invleg. Sy druk dié toe vas met die pen en sê vir hom: Die Filistyne op jou, Simson! En hy het wakker geword uit sy slaap en die weefpen met die weefsel uitgeruk. Toe sê sy vir hom: Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! terwyl jou hart nie met my is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag so groot is nie. En omdat sy hom met haar woorde aldae gepers en by hom aangedring het, het hy so ongeduldig geword, dat hy kon sterf. En hy het sy hele hart aan haar bekend gemaak en aan haar gesê: Daar het nooit 'n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is 'n nasireër van God van my moeder se skoot af: as ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak word en wees soos al die mense. Toe Delíla sien dat hy sy hele hart aan haar bekend gemaak het, laat sy die vorste van die Filistyne roep en sê: Kom hierdie keer op, want hy het sy hele hart aan my bekend gemaak. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en bring die geld met hulle saam. En sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep en die sewe haarvlegsels van sy hoof afgeskeer. En sy het begin om hom te bedwing, en sy krag het van hom gewyk. Toe sê sy: Die Filistyne op jou, Simson! En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie. Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis. Maar die hare van sy hoof het weer begin groei sodra dit afgeskeer was.

RIGTERS 16:4-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Ruk later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorekvallei. Haar naam was Delila. Die leiers van die Filistyne is toe na haar toe, en hulle het vir haar gesê: “Verlei hom en vind uit waarin lê sy groot krag en hoe ons hom kan oorrompel om hom vas te bind en in ons mag te kry. Elkeen van ons sal jou dan dertien kilogram silwer gee.” Delila het toe vir Simson gevra: “Sê my tog waarin lê jou groot krag, en waarmee kan 'n mens jou vasbind om jou in sy mag te kry?” Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe boogsnare wat nog klam is, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.” Die leiers van die Filistyne het vir haar sewe boogsnare wat nog klam is, gebring en sy het hom daarmee vasgebind. Daar het ook manne in haar kamer weggekruip. Toe sê sy vir Simson: “Die Filistyne is hier, Simson!” Hy het die boogsnare gebreek soos 'n vlam garingdraad breek, en die geheim van sy krag het onbekend gebly. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het 'n gek van my gemaak en vir my leuens vertel. Sê my tog nou waarmee kan 'n mens jou vasbind.” Hy het gesê: “As ek behoorlik vasgebind word met nuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.” Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind, en toe sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!” Daar het weer manne in haar kamer weggekruip, maar Simson het die toue aan sy arms gebreek asof dit garingdraad was. Delila het vir Simson gesê: “Hoe lank gaan jy nog 'n gek van my maak en vir my leuens vertel? Sê my tog waarmee kan jy vasgebind word.” Hy sê toe vir haar: “Jy moet net my sewe haarlokke in jou materiaal op die weefstoel vasweef.” Toe sy alles klaar met 'n pen vasgesteek het, sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!” Hy het wakker geskrik en die materiaal met pen en al uit die weefstoel losgeruk. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg en my nie vertel waarin jou groot krag lê nie.” So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf. Toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Hy het vir haar gesê: “My hare is nooit geskeer nie, want ek is van my geboorte af aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn en ek sal magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.” Delila het besef dat hy haar hierdie keer sy lewensgeheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat roep: “Kom hierdie keer! Hy het my sy lewensgeheim vertel.” Hulle het toe na haar toe gekom en die geld saamgebring. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en sy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom gegryp en sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met 'n dubbele bronsketting geboei. In die tronk moes hy die meul draai. Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.

RIGTERS 16:4-22 Die Boodskap (DB)

’n Ruk later het Simson verlief geraak op ’n vrou wat in die Sorekvallei gebly het. Haar naam was Delila. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan praat en vir haar gesê: “Verlei vir Simson om jou te vertel waar sy krag vandaan kom. Vind ook uit hoe ons hom kan oorrompel om hom te boei sodat hy magteloos is. As jy dit doen, sal ons elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.” Delila het toe vir Simson gevra: “Sê tog vir my waar kom jy aan jou bomenslike krag. Wat sou ’n mens moes gebruik om jou so vas te maak dat iemand jou kan oorrompel?” Simson het haar geantwoord: “As hulle my met sewe klam boogsnare vasmaak, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Die leiers van die Filistyne het toe vir haar sewe klam boogsnare gebring waarmee sy Simson vasgebind het. Intussen het sy ook vooraf van die mans in ’n ander vertrek in die huis laat wegkruip. Toe skree sy: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die boogsnare so maklik gebreek soos ’n garingdraad wanneer jy dit met ’n vlam brand. Die geheim van sy krag het steeds onbekend gebly. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het my vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou vir my waarmee ’n mens jou sou kon vasmaak!” Sy antwoord was: “As ek behoorlik vasgemaak word met splinternuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Delila het toe nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind en weer die mans soos die vorige keer in ’n ander vertrek laat wegkruip. Sy skree toe vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraad was. Toe sê Delila vir hom: “Jy het my weer vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou regtig vir my waarmee ’n mens jou kan vasmaak!” “Goed,” sê hy vir haar, “jy moet net my sewe haarlokke tussen die materiaal op jou weefstoel inweef en dit met ’n pen vasmaak, dan sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Terwyl hy geslaap het, het Delila sy sewe haarlokke tussen die materiaal in die weefstoel ingeweef en dit met ’n pen vasgesteek. Toe skree sy weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Hy het wakker geword en sy hare met een pluk uit die weefstoel losgeruk, pen en al. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg.” Sy het dae lank aangehou neul en kerm totdat hy dit later nie meer kon uithou nie. Hy het toe vir haar die waarheid vertel: “Van my geboorte af is my hare nog nooit gesny nie omdat ek aan God toegewy is. As my hare afgesny word, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Delila het besef dat hy dié keer die waarheid gepraat het; daarom het sy hierdie boodskap vir die leiers van die Filistyne gestuur: “Kom nog een keer terug. Hierdie keer het hy my die waarheid vertel!” Hulle het toe teruggekom en die geld saam met hulle gebring. Sy het Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Toe roep sy ’n man om sy sewe haarlokke te kom afsny. Sy krag het hom onmiddellik begin verlaat. Sy skree toe weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Toe hy wakker skrik, het hy gedink: “Ek sal my net weer soos die vorige kere losruk.” Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom gevang en sy oë uitgesteek. Toe vat hulle hom Gasa toe waar hulle hom met ’n dubbele bronsketting geboei het. Terwyl hy in die tronk was, moes hy die meul draai wat die koring gemaal het. Maar daar in die tronk het sy hare weer begin groei.

RIGTERS 16:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Ruk later het Simson op ’n vrou in die Sorekvallei verlief geraak. Haar naam was Delila. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan onderhandel: “Pols hom dat jy kan uitvind hoekom hy so sterk is. Vind uit hoe hy oorweldig en vasgebind kan word. Ons sal elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.” Delila het toe vir Simson gevra: “Vertel my ’n bietjie waar jou groot krag vandaan kom. Hoe kan ’n mens die oorhand oor jou kry?” Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog het nie, sal ek soos enige ander mens wees.” Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe vars boogsnare gebring wat nog klam was. Sy het Simson daarmee vasgebind. Daar het mans in een van die kamers van haar huis weggekruip. Sy sê toe vir hom: “Simson, die Filistyne het jou kom vang!” Hy het die boogsnare gebreek soos toue wat in ’n vlam brand. Niemand het geweet waar sy krag vandaan kom nie. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy speel met my. Jy het gelieg. Sê tog nou vir my waarmee kan ’n mens jou vasbind.” Hy het vir haar gesê: “Ek sal so swak soos enige ander mens wees as ek stewig vasgebind word met nuwe toue wat nog vir niks anders gebruik is nie.” Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind. Sy sê toe vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Daar het weer mans in een van haar kamers weggekruip. Simson het die toue wat om sy arms was, gebreek asof dit garingdrade was. Delila het vir Simson gevra: “Wanneer gaan jy ophou om met my te mors? Jy lieg nog al die tyd vir my. Sê nou regtig vir my waarmee kan jy bedwing word.” Hy sê toe vir haar: “As jy sewe van my haarlokke in die materiaal op jou weefstoel inweef en met die dwarspen vassteek, sal ek so swak wees soos enige ander mens.” Terwyl hy slaap, het sy so gemaak. Sy roep toe na hom en sê vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het wakker geskrik en die materiaal met dwarspen en al uit die weefstoel geruk. Sy kerm toe by hom: “Hoe kan jy sê jy is lief vir my, maar jy vertrou my glad nie? Drie keer het jy my al vir die gek gehou. Jy wil nog steeds nie vir my sê waarin jou krag lê nie.” So het sy dagin en daguit by hom bly neul totdat hy gevoel het hy word gek daarvan. Toe het hy sy hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “My hare is nog nooit geskeer nie. Ek is van my geboorte af as nasireër aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn. Ek sal dan magteloos wees en soos enige ander mens.” Delila het gesien dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie keer moet julle kom! Hy het my nou sy geheim vertel.” Die leiers het gekom en die geld vir die betaling saamgebring. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Sy het ’n man nadergeroep om Simson se sewe haarlokke af te skeer. Sy het seker gemaak dat hy bedwing sal kan word. Sy krag het verdwyn. Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: “Ek sal weer uit die ding kom soos al die vorige kere.” Maar hy het nie geweet dat die HERE hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom vasgebind. Hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met twee koperkettings vasgemaak. In die tronk moes hy meel maal. Maar daar het sy afgeskeerde hare weer begin groei.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid