JAKOBUS 2:14-26

JAKOBUS 2:14-26 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, dit help niks as julle sê dat julle in God glo, maar julle doen nie wat God wil hê nie. As julle so glo, dan sal dit julle nie red nie. 'n Ander gelowige het miskien nie klere nie en hy het nie elke dag genoeg kos om te eet nie, en een van julle sê miskien vir so 'n persoon: “Ek hoop dit gaan goed met jou, jy moet warm klere aantrek en genoeg eet.” Maar as julle nie vir daardie persoon gee wat hy nodig het nie, dan moet julle weet dat dit niks help nie. So gaan dit ook met mense wat sê dat hulle in God glo, maar hulle doen nie wat Hy wil hê nie. Om so te glo, beteken niks, daardie geloof is dood. Maar iemand sal miskien sê: “Een persoon glo in God en 'n ander persoon doen wat God wil hê.” Maar ek sê nee, dit is verkeerd. Wys vir my hoe jy kan glo en nie doen wat God sê nie, dan wys ek vir jou dat ek glo omdat ek doen wat God sê. Jy glo dat daar een God is, en dit is reg. Die duiwels glo dit ook en hulle is so bang dat hulle bewe. Dwase mens, almal weet dat dit niks help om te sê jy glo in God as jy nie doen wat Hy sê nie. Abraham, ons voorvader, het sy seun Isak na die altaar gebring om hom te offer. Julle weet dat God hom vrygespreek het omdat hy gedoen het wat God wil hê. Nou kan jy verstaan dat Abraham gesê het hy glo in God, want hy het gedoen wat God wil hê. Ja, hy het gedoen wat God wil hê, en dít het gewys dat hy heeltemal in God glo. So het ook gebeur wat in die Ou Testament geskryf is: “ Abraham het God geglo, en God het hom vrygespreek.” Daarom het God gesê Abraham is sy vriend. Julle moet verstaan dat God 'n mens vryspreek omdat daardie mens dóén wat God wil hê. God spreek hom vry, maar Hy doen dit nie net omdat die mens sê dat hy in God glo nie. Julle weet ook dat God vir Ragab, die prostituut, vrygespreek het omdat sy gedoen het wat Hy wou hê. Sy het die spioene genooi om in haar huis in te kom en sy het vir hulle gehelp om weg te gaan op 'n ander pad. 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is geloof ook dood wanneer 'n mens nie doen wat God wil hê nie.

JAKOBUS 2:14-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem. Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met 'n ander pad laat ontkom het nie? 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

JAKOBUS 2:14-26 Die Boodskap (DB)

Liewe broers en susters, dink julle dit gaan help as iemand oral rondvertel dat hy glo, maar glad nie soos ’n gelowige optree nie? Die blote gepratery oor geloof is tog nie genoeg om so ’n mens se saak met God reg te maak nie. Luister na die volgende storie en dan sal julle verstaan wat ek bedoel. Sê nou daar is in die gemeente ’n mede-Christen, man of vrou, wat nie klere het om aan te trek of kos het om te eet nie. Een van julle sê vir die arme man of vrou: “Ek sien dit gaan sleg met jou, maar ek wens regtig dat dit sommer gou beter sal gaan. Ek hoop jy kry iets om aan te trek en kos om te eet.” Nadat hy dit gesê het, draai hy net daar om en doen nie ’n steek verder om te help met wat die arme man of vrou nodig het nie. Wat het al hierdie woorde nou miskien gehelp? Net mooi niks nie. So is dit ook met jou verhouding met God. Om te sê jy is vriende met God, maar jy doen niks vir Hom nie, sê eintlik dat die vriendskap tussen jou en God morsdood is. Iemand sou kon sê: “Jy het ’n geloofsverhouding met God, maar ek doen weer wat God vra.” Maar sê dit presies dieselfde? Dink daaroor na. Kan jy vir my bewys dat jy in die regte verhouding met God staan sonder dat jy enigiets vir Hom doen? Ek twyfel. Maar, ek is in alle geval seker dat ek vir jou sal kan bewys dat met alles wat ek vir God doen, ek in ’n goeie verhouding met Hom staan. Jy is oortuig daarvan dat daar net een God is. Dit is ook so. Maar dié soort geloof red ’n mens nie noodwendig nie - die duiwels is ook oortuig dat God bestaan en al wat dit aan hulle doen, is dat hulle aan die bewe raak wanneer hulle dit besef. Ai, hoe onnosel is die persoon wat nie wil besef dat geloof in God sonder dat daar ook vir Hom geleef word, nutteloos is nie. Neem nou maar vir Abraham, ons geestelike vader. Hy het bo alle twyfel bewys dat sy verhouding met God reg is toe hy sy seun Isak op die altaar wou offer soos God van hom gevra het. Hy het nie net gepraat nie, maar gedoen ook. By hom kan ons mooi sien hoe die verhouding met God en die gehoorsame lewe vir God eintlik saamwerk. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Eers as iemand vir God lewe, is sy verhouding met God soos dit behoort te wees. Die Bybel sê mos: “Abraham het in God geglo. Juis daarom het God besluit dat Abraham se verhouding met Hom reg is.” Die bewys daarvan was toe Abraham vir Isak gaan offer het. Hy is van toe af ’n vriend van God genoem. Julle sien dus hoe belangrik dit is om te doen wat God vra. As dit om die regte verhouding met Hom gaan, is dit nie genoeg om slegs te weet dat God daar is en Hom te aanvaar nie. Dink nou maar aan Ragab. Sy was mos daardie straatvrou van Jerigo. Was dit nie juis haar optrede - toe sy die spioene van Israel versorg en in ’n veilige rigting weggestuur het - wat gewys het dat haar verhouding met die Here reg is nie? ’n Liggaam sonder lewe daarin is dood. Geloof, sonder dat die persoon ook die wil van die Here doen, is net so dood.

JAKOBUS 2:14-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My broers en susters, wat help dit as ’n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ’n geloof kan jou nie verlos nie. Sê nou jy sien ’n Christenbroer of -suster wat kos en klere nodig het, en jy sê: “Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,” maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan? Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks. Maar iemand sou kon redeneer: “Party mense het geloof, en ander het dade.” Ek sê: “Wys my jou geloof wat sonder dade is. Maar juis uit my dade sal ek jou my geloof wys.” Jy glo dat daar net een God is. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle! Jou dwaas! Soek jy ’n bewys dat geloof sonder dade dood is? Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword: Hy het sy seun Isak op die altaar gelê en God het hom vrygespreek. Jy sien dus dat sy geloof gepaardgegaan het met sy dade, en die geloof uit die dade volmaak geword het. Dit het dus presies gebeur soos dit in die Skrif staan: “Abraham het tot geloof in God gekom, en God het hom vrygespreek.” Hy is selfs “vriend van God” genoem. Julle sien dus dat ’n mens óók op grond van sy dade vrygespreek word en nie net op grond van sy geloof nie. Ragab die prostituut is nog ’n voorbeeld. God het haar vrygespreek op grond van haar dade toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat wegkom het. ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is ’n lyk. So is geloof wat nie dade word nie, ook dood.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid