JESAJA 61:1-4
JESAJA 61:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking. En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.
JESAJA 61:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Gees van die oppermagtige HERE het op my gekom. Die HERE het my gesalf om goeie nuus te bring vir arm mense. Hy het my gestuur om dié wat hartseer is, te troos, om vir die gevangenes vryheid aan te kondig, en vrylating vir dié in die tronk; om die genadejaar van die HERE aan te kondig, die dag van afrekening vir ons God. Maar almal wat treur, troos Hy, die dag wanneer Hy vir dié wat in Sion treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Die HERE het hulle geplant soos sterk en groot eike om sy roem te vermeerder. Hulle sal die verlate stede herbou, en die plekke weer opbou wat lank gelede verwoes is. Hulle sal die verwoeste stede herstel, plekke wat vir geslagte lank verlate gelê het.
JESAJA 61:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Dit is die Gees van die Here wat my lei, Hy wat Here is, want die Here het my gesalf. Hy het my gestuur om goeie nuus te bring vir mense wat swaarkry, om mense te troos wat huil en treur, om vir gevangenes wat geboei is, te sê hulle is vry, hulle mag uitgaan. Ek moet vir almal sê dit is nou die tyd wanneer die Here goed sal wees vir ons. Ons God sal sy vyande straf maar Hy sal dit goed laat gaan met almal wat nou huil en treur. Hy sal alles verander vir die mense van Sion wat nou treur. Daar is nou as op julle koppe, maar julle sal blomme op julle koppe hê. Julle treur nou, maar julle sal bly wees en julle sal olyf-olie aan julle smeer. Julle voel nou baie hartseer, maar julle sal sing en fees-klere aantrek. Ander mense sal sê julle, die mense van Sion, is bome wat regtig is soos die Here wil hê hulle moet wees. Die Here het hulle geplant om Hom te eer. Julle sal die stede weer bou, die stede wat nou net hope klippe is, die plekke wat lank gelede verwoes is en wat baie jare lank so stukkend gelê het.
JESAJA 61:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om 'n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder. Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou, plekke herbou wat lankal verlate lê, hulle sal verwoeste stede weer opbou, plekke wat geslagte lank verlate lê.
JESAJA 61:1-4 Die Boodskap (DB)
Die Gees van my Heer, die Here, het in my lewe gekom. Die Here het my die krag gegee om goeie nuus te bring vir dié wat moedeloos is. Ek tel dié op wat neerslagtig is. Vir hulle wat in die tronk sit, sê ek dat hulle vrygelaat gaan word. Vir hulle wat toegesluit is, kondig ek aan dat hulle sal uitkom. Hy stuur my om hulle wat sit en huil te troos. Hy laat my aankondig dat die tyd gekom het dat die Here sy volk gaan bevry en sy vyande gaan straf. Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid. Hulle sal wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe groot Hy is. Hulle sal geboue herstel wat lank verwoes gelê het. Plekke wat vroeër afgebreek was, sal hulle weer opbou. Hulle sal dorpe wat geslagte lank verwoes gelê het, nuut maak.