JESAJA 54:4-6
JESAJA 54:4-6 Bybel vir almal (ABA)
Jy moenie bang wees nie, jy moenie dink jy beteken niks nie. Jy moenie skaam wees nie, want niemand sal jou weer verneder nie. Jy sal die tyd vergeet toe jy 'n jongmeisie was en toe jy 'n weduwee was, toe ander mense jou gespot het. Want die Een wat jou gemaak het, is jou Man, sy Naam is Here wat oor alles regeer. Jou Bevryder is die Heilige God van Israel, sy Naam is God van die hele aarde.” Jerusalem, jou God sê: “Jy was soos 'n vrou, haar man wou haar nie meer hê nie. Toe Ek jou geroep het, was jy soos 'n vrou met wie 'n man getrou het toe hy nog jonk was, maar later het hy haar weggejaag. Jy was baie hartseer.
JESAJA 54:4-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie. Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word. Want soos 'n verlate vrou en 'n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos 'n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.
JESAJA 54:4-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie bang wees nie, jy sal nie weer in die skande kom nie, moenie so verleë daar staan nie, jy sal nie weer verneder word nie. Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet en nie meer dink hoe jy verneder is toe jy 'n weduwee was nie. Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem. Jy is 'n verstote en bitter bedroefde vrou, maar die Here roep jou terug, want hoe kan 'n man sy eie vrou vergeet? sê jou God.
JESAJA 54:4-6 Die Boodskap (DB)
Moenie bang wees dat jy weer in die skande sal kom nie. Moenie huiwer omdat jy dink jy sal weer verneder word nie. Jy hoef nie weer terug te dink aan hoe jy in die skande gekom het toe jy jonk was nie. Jy kan nou maar vergeet hoe jy verneder is toe jy ’n weduwee geword het. Die Here wat jou gemaak het, sal nou jou man wees. Sy Naam is die Here van die magtige leërmag. Die hoë God van Israel sal jou bevry. Hy word genoem die God van die hele aarde. Jy is soos ’n vrou wat weggejaag is en wat seergekry het, soos ’n jong vrou wat op die straat uitgegooi is. Maar die Here roep jou terug en Hy sê vir jou
JESAJA 54:4-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moenie bang wees nie. Jy sal nie weer verneder word nie. Moenie bang wees vir die skande van voorheen nie. Jy sal die skande van jou jeug vergeet en ook die vernedering toe jy ’n weduwee was. “Jou Skepper sal ook jou man wees. Die HERE, die Almagtige, is sy Naam. Die Heilige van Israel is jou Redder. Hy is die God van die hele wêreld! Dit is die HERE wat jou teruggeroep het van jou smart. Jy was soos ’n jong vrou wat deur haar man verstoot is,” sê jou God.