JESAJA 50:10-11
JESAJA 50:10-11 Bybel vir almal (ABA)
“Daar is ook mense wat die Here dien en wat luister na my, sy dienaar. Dit gaan sleg met my, dit is donker rondom my, maar daardie mense moet glo in die Here, hulle moet weet dat Hy sal help. Maar julle wat vure aansteek om my te brand, julle wat my skiet met brandpyle, julle sal self brand in die vuur wat julle aansteek. Die brandpyle sal in julle steek. Die Here sal dit doen. Julle sal op die grond lê en rol, want julle sal baie pyn hê.”
JESAJA 50:10-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.
JESAJA 50:10-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie van julle dien die Here en luister na sy dienaar? Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun. Maar julle wat vure aansteek, wat brandpyle gereed maak, julle sal in julle eie vuur brand, deur julle eie brandpyle sal julle doodbrand. Dit is my mag wat dit oor julle bring, julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie.
JESAJA 50:10-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie is daar onder julle wat ontsag het vir die HERE, wat luister na die stem van sy dienskneg? Hy wat in duisternis verkeer, wat geen lig het nie, moet op die Naam van die HERE vertrou, moet op sy God steun. Kyk, julle almal wat vure aansteek, wat julle met brandpyle bewapen, loop dan in die gloed van julle vuur, ja, tussen die brandpyle wat julle aangesteek het! Deur my hand het dit met julle gebeur; in 'n plek van pyniging sal julle lê.
JESAJA 50:10-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie is onder julle wat die HERE vrees, wat luister na die stem van sy kneg, wat in duisternis wandel en geen lig het nie? laat hy op die Naam van die HERE vertrou en op sy God bly. Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vonke omring: wandel in die lig van julle vuur en in die vonke wat julle aangesteek het. Dit moet julle uit my hand hê; julle sal in droefheid gaan lê.
JESAJA 50:10-11 Die Boodskap (DB)
Dié wat respek het vir die Here, luister wat sy dienaar sê. Dié wat in onsekerheid is en geen duidelikheid het oor sy lewe nie, moet op die Here vertrou. Hy moet op God staatmaak. Elkeen van julle wat net op homself staatmaak en by sy eie vuur wil staan, sal daarvan brand. Ek sal julle pyn laat voel wat nooit ophou nie.
JESAJA 50:10-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie van julle dien die HERE en doen wat sy dienaar sê? Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die HERE, en staatmaak op sy God! Maar julle wat vure aansteek, wat brandende fakkels gereed kry, in julle eie vuur sal julle brand. Julle eie fakkels sal julle doodbrand. Dit is wat julle uit my hand sal ontvang. In smart sal julle gaan lê.