HEBREËRS 4:12-13
HEBREËRS 4:12-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.
HEBREËRS 4:12-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.
HEBREËRS 4:12-13 Bybel vir almal (ABA)
Want die boodskap van God is nie woorde wat dood is en niks beteken nie, dit kan werk en dinge doen. Dit is skerper as die skerpste swaard, dit kan diep oopsny, tot by 'n mens se lewe en gees, tot by sy murg en die bene in sy liggaam. Dit kan sien wat is reg en wat is verkeerd wanneer 'n mens dink en graag dinge wil doen. En God kan almal en alles sien, niemand kan iets wegsteek vir Hom nie, Hy sien alles presies soos dit is. Ons moet vir God alles verduidelik wat ons gedoen het.
HEBREËRS 4:12-13 Die Boodskap (DB)
Wat God sê, is nie maar net dooie woorde nie. Nee, wat Hy sê, gebeur en daar is geen keer aan nie. Sy woorde is ook nie oppervlakkig nie. Soos ’n skerp mes diep kan sny, so sny dít wat God sê tot diep binne-in jou: ja, tot daar waar jy gedink het jy dinge kan wegsteek. Wat jy dink en hoe jy oor dinge voel, kom alles onder die soeklig van wat God sê. Jy sal nie kan wegkom nie. God weet alles wat in die wêreld aangaan. Net mooi niks kan vir Hom weggesteek word nie. Hy sien en weet alles asof dit voor Hom op ’n tafel uitgepak is. So sal ons ook voor Hom moet staan en antwoorde gee oor wat in ons lewe aangaan.
HEBREËRS 4:12-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop. Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen.