GENESIS 41:33-36
GENESIS 41:33-36 Bybel vir almal (ABA)
Josef het gesê: “Jy moet nou 'n slim man kies en hom die hoof oor die mense van Egipte maak. Dit is wat jy moet doen: Jy moet amptenare kies en aanstel oor Egipte en hulle moet een vyfde van die koring-oes bymekaarmaak in die sewe goeie jare. Wanneer hulle al die kos bymekaargemaak het, dan moet hulle die koring bêre en oppas in die farao se stoorkamers in die stede. Daar sal dan kos wees om te gebruik in die sewe jare wanneer die koring-oes min sal wees in Egipte. Dan sal dit nie so sleg gaan met die land nie.”
GENESIS 41:33-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Laat Farao dan nou uitkyk na 'n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland. Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland. En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre. So sal dan die voedsel 'n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.
GENESIS 41:33-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte. Die farao moet dít doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer. Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is. Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”
GENESIS 41:33-36 Die Boodskap (DB)
“Farao moet daarom ’n slim man soek met goeie politieke en administratiewe insigte wat oor die hele Egipte kan regeer. U moet ook bekwame bestuurders oor die hele land aanstel. Hulle moet ’n belasting van ’n vyfde van alles wat die land produseer, hef tydens die goeie jare. Tydens die sewe goeie jare moet hulle voedselvoorrade opbou. Met u hulp moet hulle koring in voorraadstede opberg en dit dan goed bewaar. Uit hierdie voedselvoorrade moet die mense dan gedurende die sewe honger jare leef. So sal die land hierdie verskriklike ramp oorleef.”
GENESIS 41:33-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“My voorstel is dat u ’n wyse en verstandige persoon kry en hom aanstel oor die hele Egipte. Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder. Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor en daaroor toesig hou sodat daar kos sal wees in die verskillende stede. Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”