GENESIS 32:22-32
GENESIS 32:22-32 Bybel vir almal (ABA)
Jakob het in die nag opgestaan. Hy het sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf kinders geneem, en hulle het deur die Jabbok-rivier gegaan. Hy het hulle deur die rivier laat gaan en daarna het hy ook sy diere deur die rivier laat gaan. Jakob het alleen agtergebly. 'n Man het gekom en met hom gestoei totdat dit die volgende dag lig begin word het. Toe die man sien dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het hy vir Jakob op sy heup geslaan. Jakob se heup het seergekry, en hy het moeilik geloop. Die man sê toe vir Jakob: “Los my, want dit is amper dag.” Maar Jakob antwoord hom: “Jy moet my eers seën, dan sal ek jou los.” Die man het vir Jakob gevra: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Die man sê toe: “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie, dit sal nou Israel wees. Die naam Israel beteken ‘Jy het met God en met mense gestoei en jy het gewen.’ ” Jakob vra toe: “Sê asseblief vir my, wat is jou naam.” En die man vra: “Hoekom vra jy wat my naam is?” Die man het vir Jakob daar geseën. Jakob het die plek Pniël genoem. Hy het gesê: “Ek het God gesien. Hy was so naby my dat ek sy gesig kon sien, en ek het nie gesterf nie.” Die son het opgekom toe Jakob weggegaan het van Pniël. Jakob het swaar geloop, want sy heup was baie seer. Dit is hoekom die Israeliete nie die senuwees in die heupbeen van 'n dier eet nie, want die man het vir Jakob op sy heup geslaan, op die heupsenuwee.
GENESIS 32:22-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek: hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het. Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pniël verby was; en hy was mank aan sy heup. Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.
GENESIS 32:22-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan. Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan. Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.” Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.” Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.” Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.” Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?” Hy het vir Jakob net daar geseën, en Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.” Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup, en daarom eet die Israeliete tot nou toe nie die senuweebondel wat aan die heup vaskom nie, want die man het vir Jakob teen sy heup geslaan, op die heupsenuwee.
GENESIS 32:22-32 Die Boodskap (DB)
Jakob het toe die vee vooruitgestuur, maar hyself het die nag in die kamp geslaap. Laatnag het hy wakker geword. Daar en dan besluit hy om Lea en Ragel, Silpa en Bilha, sowel as die elf seuns, deur die rivier te neem. Hulle is toe by die Jabbok se driwwe deur. Toe hy sy familie veilig deur die rivier gekry het, het hy ook al sy besittings gestuur. Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ’n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ’n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het. Die man sê toe: “Los my tog nou, want dit is al dagbreek.” Jakob het toe gesê: “Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.” “Wat’s jou naam?” stotter die man. “My naam is Jakob,” het Jakob geantwoord. “Van nou af,” sê die man, “sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.” Die man het verder gesê: “Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen.” Jakob was verbaas. “Wie is jy nou eintlik? En wat is jou naam?” het hy gevra. “Hoekom vra jy my naam?” het die man gesê. Hy het Jakob geseën en toe is hy weg. “Ek het God vannag gesien en kyk, ek lewe nog,” het Jakob gesê. Hy het die plek toe Pniël genoem. Net toe Jakob van Pniël af wegstap, het die son opgekom. ’n Nuwe tyd het vir Jakob aangebreek. Hy was egter kruppel en het van toe af moeilik geloop.
GENESIS 32:22-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gedurende die nag het Jakob opgestaan en sy twee vroue, twee slavinvroue en elf seuns geneem en hulle deur die Jabbokdrif gestuur. Nadat hy hulle na die oorkant toe laat gaan het, stuur hy ook al sy besittings deur. Hy het daar alleen agtergebly. ’n Man het gekom en met hom gestoei tot dagbreek toe. Toe die man sien dat hy hom nie kon onderkry nie het hy Jakob op sy heup geslaan sodat dit uit die potjie spring. Toe sê die man: “Los my nou, die dag begin al breek.” Uitasem sê Jakob: “Ek sal jou net laat gaan as jy my seën.” “Wat is jou naam?” vra die man. Hy antwoord: “Jakob.” “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,” sê die man vir hom. “Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.” “Wat is jóú naam dan?” vra Jakob hom. “Hoekom vra jy wat my naam is?” antwoord die man. Toe seën hy Jakob net daar. Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: “Ek het God in die gesig gekyk. Tog is my lewe gespaar.” Die son was besig om op te kom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af het hy gehink as gevolg van sy heup. Dis waarom die Israeliete tot vandag toe nie die heupsening eet nie. Dit is ter herinnering aan wat daardie nag gebeur het.