GENESIS 2:15-17
GENESIS 2:15-17 Bybel vir almal (ABA)
Die Here God het die mens in die Eden-tuin laat woon om daarin te werk en dit op te pas. Die Here God het vir die mens gesê: “Jy mag van al die vrugte in die tuin eet, maar een boom se vrugte mag jy nie eet nie. Dit is die boom wat jou kan help om te weet wat goed is en wat sleg is. As jy van daardie vrugte eet, dan sal jy sterf. Dit is seker.”
GENESIS 2:15-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
GENESIS 2:15-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
GENESIS 2:15-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die HERE God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”
GENESIS 2:15-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden gesit om dit te bewerk en te bewaak. Die HERE God het die mens beveel en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vrylik eet. Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
GENESIS 2:15-17 Die Boodskap (DB)
Die Here God het die mens in die tuin gesit sodat hy dit kon bewerk en oppas. Hy het ook vir die mens gesê: “Jy is welkom om van al die bome in die tuin te eet. Daar is egter een boom waarvan jy nooit mag eet nie. Dit is die boom wat kennis gee van goed en kwaad. Die oomblik dat jy daarvan eet, word jou bestemming die dood.”
GENESIS 2:15-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg. Maar die HERE God het hom gewaarsku: “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”