GENESIS 19:23-30
GENESIS 19:23-30 Bybel vir almal (ABA)
Toe die son opkom, het Lot in die stad Soar aangekom. Die Here het toe swael wat brand en vuur uit die lug laat val op Sodom en Gomorra. Hy het daardie stede verwoes, en die hele suide van die Jordaan-vallei, ook al die mense wat in die stede gewoon het, en al die plante. Lot se vrou het agtertoe gekyk en toe verander sy in 'n soutpilaar. Abraham het daardie oggend vroeg na die plek gegaan waar die Here met hom gepraat het. Hy het gekyk na Sodom en Gomorra en na die hele suide van die Jordaan-vallei. Hy het rook gesien wat uit die aarde kom daar waar die stede was. Dit het gelyk soos rook uit 'n oond. Toe God die stede in die suide van die Jordaan-vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink en Hy het vir Lot laat uitgaan uit die stede wat Hy verwoes het. Dit was die stede waar Lot gewoon het. Lot het weggegaan uit Soar en hy het in die berge in 'n grot gaan woon, want hy was bang om in Soar te woon. Sy twee dogters het saam met hom gegaan.
GENESIS 19:23-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom. En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel, en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei. En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword. En Abraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van die HERE gestaan het. Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van 'n smeltoond. En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot woonagtig was. En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee dogters in 'n spelonk gaan woon.
GENESIS 19:23-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net toe die son opkom, het Lot in Soar aangekom. Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei. Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander. Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het. Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is. Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het. Lot het toe van Soar af weggegaan en met sy twee dogters in die berge gaan bly. Hy was bang om in Soar te bly en het toe met sy twee dogters in 'n grot gaan woon.
GENESIS 19:23-30 Die Boodskap (DB)
Die son was net op toe Lot-hulle in Soar aankom. Toe het die hel losgebars. Die Here het swaelvuur op Sodom en Gomorra laat neerreën. Hierdie vuur het alles en almal voor die voet verdelg. Die Here het al die stede in die omgewing heeltemal vernietig, al die inwoners doodgemaak en al die plante tot op die grond verwoes. Niks het oorgebly nie. Lot se vrou het egter omgekyk en onmiddellik in ’n soutpilaar verander. Vroeg die volgende oggend is Abraham terug na die plek waar hy die vorige dag nog met die Here gepraat het. Hy het in Sodom en Gomorra se rigting gekyk en net verwoesting aanskou. Al die dorpe in die omgewing was vernietig. Donker rookwolke het oor die gebied gehang saam met die skerp reuk van rookwalms. Terwyl die Here die stede in die vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink. Hy het onthou wat Abraham Hom gevra het; daarom is Lot en sy mense nie in die ramp dood nie. Lot en sy dogters is later van Soar af weg. Hulle was bang om langer daar te bly. Hulle is toe die berge in en het in ’n grot gaan woon.
GENESIS 19:23-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Net toe die son opkom, het Lot by die dorpie aangekom. Toe het die HERE vuur en brandende swael uit die hemel op Sodom en Gomorra laat neerreën. Hy het hierdie stede en hulle omgewing totaal verwoes met al hulle inwoners en die plante en die diere. Agter hom het Lot se vrou omgekyk en toe in ’n soutpilaar verander. Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die HERE gestaan het. Hy het oor die vlakte uitgekyk in die rigting van Sodom en Gomorra. Daar sien hy net rookkolomme optrek oor die hele gebied, soos rook uit ’n steenoond. Maar God het Abraham se versoek onthou en Lot gered uit die verwoesting van die stede in die vlakte waar hy gewoon het. Na ’n tyd het Lot weggegaan uit Soar omdat hy bang was vir die inwoners. Hy gaan woon toe saam met sy dogters in ’n grot in die berge.