GENESIS 15:1-5
GENESIS 15:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Hierna het Abram gedroom die Here sê vir hom: “Abram, jy moenie bang wees nie. Ek sal jou beskerm. Ek sal vir jou baie gee.” Toe sê Abram: “Here, my Here, wat kan U vir my gee? Ek het nie kinders nie, en Eliëser, die man uit Damaskus, sal eendag al my goed erf. U het nie vir my 'n nageslag gegee nie, en daarom sal een van my slawe alles erf wat ek het.” Toe praat die Here weer met Abram en Hy sê vir hom: “Nee, dit is nie 'n slaaf wat al jou goed sal erf nie. Net jou eie seun sal jou goed erf.” Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: “Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel. Jou nageslag sal so baie wees.”
GENESIS 15:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
NÁ hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in 'n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot. Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.
GENESIS 15:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierna het die woord van die Here in 'n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.” Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.” Abram het verder gesê: “U het nie vir my 'n nageslag gegee nie. 'n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.” Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.” Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”
GENESIS 15:1-5 Die Boodskap (DB)
Na ’n ruk het die Here in ’n gesig na Abram toe gekom. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is naby jou en Ek pas jou op. Ek sal jou nog baie dinge gee.” Abram was so moedeloos oor sy kinderloosheid dat hy gesê het: “Ag, Here, wat help u geskenke as ek nie kinders het nie. Eliëser wat uit Damaskus kom, die een wat vir my werk, hy sal nog eendag al my goed erf. “U het my nie ’n kind gegee nie, Here, en daarom sal een van my werkers nog al my besittings kry.” Die Here het toe vir Abram gesê: “Nee, dit sal nie gebeur nie. Eliëser sal niks van jou erf nie. Jou eie kind sal eendag alles kry.” Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.”
GENESIS 15:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het die HERE in ’n visioen aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.” Maar Abram het geantwoord: “Oppermagtige HERE, wat beteken al u seëninge as ek nie eers ’n seun het nie? Daarom sal Eliëser van Damaskus my erfgenaam word. U het my geen kinders gegee nie. Een van my slawe sal dus alles erf wat ek besit.” Toe sê die HERE vir hom: “Nee, hy sal nie jou erfgenaam word nie. Jy sal ’n seun van jou eie hê wat al die besittings wat Ek jou gee, sal erf.” Daarop neem die HERE Abram na buite toe en sê: “Kyk op na die naghemel en tel die sterre. Kan jy hulle tel? Net so baie sal jou nageslag wees!”