GENESIS 12:10-20
GENESIS 12:10-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was hongersnood in die land, 'n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar 'n heenkome te vind. Toe hy op die punt staan om Egipte binne te gaan, sê hy vir sy vrou Sarai: “Ek weet jy is 'n mooi vrou. Wanneer die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dis sy vrou,’ en hulle sal my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat bly lewe. Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word.” Toe Abram in Egipte aankom, het die Egiptenaars gesien hoe mooi sy vrou is. En toe die farao se amptenare haar sien, het hulle haar by hom aanbeveel, en sy is na die farao se paleis toe gevat. Hulle het aan Abram goed gedoen oor haar en vir hom kleinvee en beeste gegee; ook donkies, slawe en slavinne, donkiemerries en kamele. Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram. Toe roep die farao vir Abram en vra hom: “Wat het jy my aangedoen? Waarom het jy my nie gesê sy is jou vrou nie? Waarom het jy gesê sy is jou suster, sodat ek haar as my vrou gevat het? Hier is jou vrou dan. Vat haar en maak dat jy wegkom!” Toe het die farao aan sy amptenare bevele oor Abram uitgereik, en hulle het hom en sy vrou met al sy besittings uit die land uit gestuur.
GENESIS 12:10-20 Bybel vir almal (ABA)
In daardie tyd was daar hongersnood in die land. Abram het na Egipte gegaan om daar te gaan woon, want daar was baie min kos in sy eie land. Toe hy naby Egipte kom, het hy vir sy vrou Sarai gesê: “Ek weet jy is 'n mooi vrou. Wanneer die mense van Egipte jou sien, dan sal hulle sê: ‘Dit is Abram se vrou.’ Dan sal hulle my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat lewe. Jy moet vir hulle sê jy is my suster. Dan sal hulle my nie doodmaak omdat hulle jou wil hê nie. Hulle sal dink ek is jou broer en hulle sal goed wees vir my. So sal jy help om my lewe te red.” Toe Abram in Egipte kom, het die mense van Egipte gesien Sarai is baie mooi. Die farao se amptenare het haar gesien, en hulle het vir die farao gaan vertel van die mooi vrou. Hulle het haar gaan haal en sy moes in die farao se paleis gaan bly. Die farao was goed vir Abram omdat hy gedink het Sarai is sy suster. Hy het vir Abram skape, bokke, beeste, donkies, slawe, slavinne, donkie-merries en kamele gegee. Maar die Here het die farao en sy huisgesin swaar gestraf omdat hy Abram se vrou Sarai gevat het. Die farao roep toe vir Abram en vra vir hom: “Hoekom het jy dit aan my gedoen? Hoekom het jy nie vir my gesê Sarai is jou vrou nie? Hoekom het jy gesê sy is jou suster, want toe het ek met haar getrou. Hier is jou vrou nou. Neem haar en gaan weg!” Die farao het toe vir sy amptenare gesê hulle moet Abram en sy vrou en al sy goed uit die land stuur.
GENESIS 12:10-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy 'n vrou is mooi van aansien. As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou — en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? Waarom het jy gesê: Sy is my suster — sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.
GENESIS 12:10-20 Die Boodskap (DB)
Na ’n ruk het daar hongersnood uitgebreek. Toe daar nie meer kos was nie, het Abram Egipte toe getrek. Hy kon nie anders nie, want daar was niks meer om te eet nie. Naby Egipte se grens het Abram bang geword en vir sy vrou, Sarai, gesê: “Jy is ’n baie mooi vrou. Almal kan dit sien. En dit is waarom ek vir die Egiptenaars bang is. As hulle jou sien, sal hulle jou wil hê. En as hulle agterkom ons is getroud, sal hulle my doodmaak, maar jou laat leef. As die Egiptenaars jou uitvra, sê dan jy is my suster. Hulle sal dan vir my goed wees oor jou en my laat leef en vir jou ook. Net jy kan nog my lewe red.” Abram-hulle het Egipte skaars binnegetrek of die mense sien hoe mooi Sarai is. Sommige belangrike amptenare het haar ook raakgesien en vir die koning van haar vertel. Sarai is toe terstond gehaal en na die koning se huis geneem. Met Abram het dit ook baie goed gegaan oor haar. Hy het vee, beeste en donkies, slawe en kamele gekry oor sy vrou Sarai. Die Here het egter ingegryp. Hy wou Abram en Sarai red, en het toe groot ellendes oor die koning en sy huis laat kom. Toe het die koning Abram laat kom. “Wat het julle aan my gedoen?” het hy gesê. “Waarom het jy nie gesê dit is jou vrou nie? Jy het gesê dit is jou suster en daarom wou ek met haar trou. Hier is jou vrou. Vat haar en gee pad.” Die koning het soldate saamgestuur om seker te maak dat Abram, sy vrou en al sy besittings die land verlaat.
GENESIS 12:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe die land met ’n swaar hongersnood getref is, het Abram Egipte toe gegaan om tydelik daar te bly. Naby die grens van Egipte sê Abram vir Sarai: “Luister, my vrou, jy is ’n baie mooi vrou. Sodra die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dit is sy vrou. Kom ons maak hom dood en vat haar vir ons!’ Sê tog dat jy my suster is, want dan sal die Egiptenaars my goed behandel ter wille van jou, en ook my lewe spaar.” En dit was ook so. Toe hulle in Egipte kom, het almal die beeldskone vrou raakgesien. Die paleisamptenare het haar gesien, die farao van haar vertel en sy is in sy paleis opgeneem. Ter wille van haar het die farao vir Abram baie geskenke gegee in die vorm van kleinvee, grootvee, donkies, slawe, slavinne en kamele. Maar die HERE het die farao en sy huis met ernstige plae getref oor Sarai, Abram se vrou. Die farao laat roep toe vir Abram en vaar teen hom uit: “Wat het jy my aangedoen? Hoekom het jy my nie gesê dat sy jou vrou is nie? Hoekom het jy toegelaat dat ek haar as vrou neem deur te sê dat sy jou suster is? Hier is jou vrou! Vat haar, en trap!” Die farao het toe vir Abram en sy vrou, asook al hulle besittings onder begeleiding uit die land gestuur.