GALASIËRS 5:19-26

GALASIËRS 5:19-26 Die Boodskap (DB)

’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge. Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. Natuurlik is die wet nie gekant teen so ’n leefwyse nie. Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef. Want al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker. Die Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen. Kom ons hou dadelik op om so baie van onsself te dink. Ons mag nie onder mekaar stry of op mekaar jaloers wees nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid