GALASIËRS 2:11-14
GALASIËRS 2:11-14 Bybel vir almal (ABA)
Sefas het na die stad Antiogië gekom. Hy het daar iets gedoen waarvan God nie hou nie en ek het toe reguit vir hom gesê dat hy verkeerd doen. Voorheen het hy altyd saam geëet met die Christene wat nie Jode was nie. Maar later het daar party van Jakobus se mense in Antiogië aangekom. Toe het Sefas skielik opgehou om saam te eet met die Christene wat nie Jode was nie, want hy was bang vir die Joodse Christene. Toe het die ander Joodse Christene dit ook gedoen, hulle was net so skynheilig soos Sefas. Ook Barnabas het skynheilig geword. Ek het gesien hulle doen verkeerd, hulle verander die waarheid van die goeie boodskap. Daarom het ek vir Sefas gesê, en almal het dit gehoor: “Sefas, jy is 'n Jood, maar jy lewe soos die mense wat nie Jode is nie. Nou sê jy vir die mense wat nie Jode is nie, dat hulle soos Jode moet lewe. Jy mag dit nie doen nie.
GALASIËRS 2:11-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Bárnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?
GALASIËRS 2:11-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep. Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is 'n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie 'n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”
GALASIËRS 2:11-14 Die Boodskap (DB)
’n Ruk later, toe ek saam met Barnabas-hulle in die stad Antiogië gewerk het, het Petrus ook soontoe gekom. Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het. Kom ek vertel julle gou wat gebeur het. Toe Petrus daar in Antiogië was, het hy heeltyd saam met die nie-Joodse gelowiges geëet wat ook deel van die gemeente was, totdat ’n klompie Joodse gelowiges in die gemeente aangekom het. Hulle was aanhangers van Jakobus, een van die leiers van die kerk in Jerusalem. Hierdie manne het steeds die besnydenis voorgestaan. Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat hulle sou sê as hulle sien dat hy nie meer die Joodse reëls oor rein en onrein kos gehoorsaam nie. Ongelukkig het Petrus die ander Joodse gelowiges beïnvloed om net soos hy te maak. Die uiteinde: kort voor lank het al die Joodse gelowiges eenkant gesit en eet en al die ander gelowiges op hulle eie. Selfs Barnabas, saam met wie ek daar in die kerk in Antiogië gewerk het, is deur hierdie skynheiligheid meegevoer. Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?”
GALASIËRS 2:11-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”