ESRA 8:15-36

ESRA 8:15-36 Bybel vir almal (ABA)

Ek het hulle laat bymekaarkom by die rivier wat na die stad Ahawa vloei. Ons het daar drie dae lank in tente gebly, en toe ek kyk wie van die volk en die priesters daar was, het ek gesien daar is nie Leviete nie. Toe het ek die hoofde gestuur. Hulle was Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam, en die onderwysers Jojarib en Elnatan. Ek het hulle gestuur om vir Iddo 'n boodskap te bring. Hy was die leier in die stad Kasifja, 'n plek waar Leviete en tempel-slawe gewoon het. Ek het vir hulle gesê wat hulle moet sê vir Iddo en die ander tempel-slawe in Kasifja. Hulle moes vir hom vra om vir ons werkers te stuur vir die tempel van ons God. Ons God was goed vir ons, want hulle het vir ons 'n verstandige man gestuur van die familie van Magli seun van Levi seun van Jakob. Die man was Serebja, en hulle het ook 18 van sy seuns en broers gestuur, en ook vir Gasabja. Saam met hom was Jesaja van die Merari-familie, en 20 van sy broers en seuns. Daar was ook 220 mans en seuns van die families van die tempel-slawe wat Dawid en die amptenare gegee het om vir die Leviete te werk. Hulle name is almal in die lys van die families se name geskryf. Ek het daar by die Ahawa-rivier gesê dat ons moet vas, want ons moet ons voor God verneder en bid dat Hy dit goed sal laat gaan met ons en ons families en alles wat ons het. Ek was skaam om vir die koning 'n leër en manne op perde te vra om ons te beskerm teen vyande op die pad. Ons het vir die koning gesê: “Ons God is goed vir almal wat Hom dien, maar Hy word kwaad vir almal wat weggaan van Hom, en Hy straf hulle.” Daarom het ons gevas en gebid dat ons God ons moet beskerm, en Hy hét dit gedoen. Ek het twaalf priesterleiers geroep. Dit was Serebja en Gasabja en tien ander leiers. Ek het die silwer en die goud en die ander goed vir hulle geweeg. Dit was die presente wat die koning en sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat daar was, vir die tempel van ons God gegee het. Ek het dit geweeg en vir hulle gegee. Daar was 650 talente silwer, 100 talente silwergoed, 100 talente goud en 20 goue bekers. Die bekers het 1 000 darieke geweeg. Daar was ook twee blink stukke brons, dit was so kosbaar soos goud. Ek het vir die priesterleiers gesê: “Julle is gewy aan die Here, en die goed is gewy, en die silwer en goud is presente vir die Here, die God van julle voorvaders. Julle moet dit oppas en hou totdat julle dit weeg in die kamers by die tempel. Julle moet dit weeg waar die priesterleiers en die Leviete en die familieleiers van die Israeliete dit sien.” Die priesters en die Leviete het toe die silwer en die goud en die goed geneem wat ek vir hulle geweeg en gegee het om na Jerusalem te bring, na die tempel van ons God. Ons het weggegaan van die Ahawa-rivier op die twaalfde dag van die eerste maand. Ons wou na Jerusalem gaan. Ons God was by ons, Hy het ons beskerm teen vyande en diewe op die pad. Ons het in Jerusalem gekom en ons het drie dae lank daar gebly. Op die vierde dag het die priesterleiers die silwer en die goud en die goed geweeg in die tempel van ons God en hulle het dit vir die priester Meremot seun van Urija gegee. Eleasar seun van Pinehas was by hom, en die Leviete Josabad seun van Jesua en Noadja seun van Binnuï was ook daar. Hulle het die goed getel en geweeg en hulle het opgeskryf hoeveel dit is. Die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het, het daardie tyd brand-offers gebring vir die God van Israel. Dit was twaalf bulle vir al die stamme van Israel, 96 skaap-ramme en 77 lammers. Hulle het ook twaalf bok-ramme gebring om 'n sonde-offer te wees. Alles was brand-offers vir die Here. Die koning het alles wat hy besluit het, in briewe geskryf. Hulle het die briewe van die koning vir die hoof-amptenare en die goewerneurs van die provinsie Wes-Eufraat gegee, en hierdie amptenare het gedoen wat hulle moes doen vir die volk en vir die tempel.

ESRA 8:15-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En ek het hulle versamel by die rivier wat na Áhawa loop, en ons het daar drie dae laer opgeslaan; en ek het op die volk en die priesters ag gegee, maar van die kinders van Levi daar nie aangetref nie. Daarom het ek Eliëser, Áriël, Semája en Élnatan en Jarib en Élnatan en Natan en Sagaría en Mesúllam, die hoofde, en Jójarib en Élnatan, die leraars, gestuur en hulle bevel gegee aan Iddo, die hoof in die plek Kasífja; en ek het die woorde in hulle mond gelê wat hulle met Iddo, en sy broers, die tempelbediendes in die plek Kasífja, moes spreek, dat hulle vir ons dienaars vir die huis van onse God moes bring. En hulle het vir ons, omdat die goeie hand van onse God oor ons was, verstandige manne uit die kinders van Magli, die seun van Levi, die seun van Israel, gebring, naamlik Serébja met sy seuns en sy broers, agttien; en Hasábja, en saam met hom Jesaja, van die kinders van Merári, sy broers en hulle seuns, twintig; en van die tempelbediendes wat Dawid en die owerstes vir die diens van die Leviete gegee het, tweehonderd-en-twintig tempelbediendes wat almal met hulle name aangewys was. Toe het ek daar 'n vastyd uitgeroep aan die rivier Áhawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom 'n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed. Want ek was skaam om van die koning 'n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat. So het ons dan gevas en onse God dit gevra, en Hy het ons verhoor. Toe het ek van die priesterowerstes twaalf afgesonder: Serébja, Hasábja en tien van hulle broers saam met hulle. En ek het vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, die offergawe aan die huis van onse God wat die koning en sy raadsmanne en sy vorste en die hele Israel wat aanwesig was, aangebied het. En ek het in hulle hand afgeweeg: seshonderd-en-vyftig talente silwer en silwervoorwerpe van honderd talente, honderd talente in goud, en twintig goue bekers van duisend darieke en twee mooi goudgeel voorwerpe van koper, kosbaar soos goud. En ek het vir hulle gesê: Julle is heilig aan die HERE, en die voorwerpe is heilig, en die silwer en die goud is 'n vrywillige gawe aan die HERE, die God van julle vaders. Waak daaroor en bewaar dit, totdat julle dit afweeg voor die owerstes van die priesters en die Leviete en die familie-owerstes van Israel in Jerusalem, in die vertrekke van die huis van die HERE. Toe het die priesters en die Leviete die gewig van die silwer en die goud en die voorwerpe ontvang om dit na Jerusalem, na die huis van onse God te bring. Daarna het ons weggetrek van die rivier Áhawa af op die twaalfde van die eerste maand, om na Jerusalem te gaan; en die hand van onse God was oor ons, sodat Hy ons gered het uit die hand van die vyand en die wat ons voorlê op die pad. En ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gebly. En op die vierde dag is die silwer en die goud en die voorwerpe in die huis van onse God afgeweeg onder bewaring van die priester Méremot, die seun van Uría, en by hom was Eleásar, die seun van Pínehas, en by hulle Jósabad, die seun van Jésua, en Noádja, die seun van Bínnuï, die Leviete — volgens getal en gewig van alles; en tegelykertyd is die hele gewig opgeskrywe. Hulle wat uit die gevangenskap gekom het, die seuns van die ballingskap, het brandoffers gebring aan die God van Israel: twaalf bulle vir die hele Israel, ses-en-negentig ramme, sewen-en-sewentig lammers, twaalf bokke as sondoffer — dit alles as brandoffer aan die HERE. En hulle het die bevelskrifte van die koning gegee aan die landvoogde van die koning en die goewerneurs wes van die Eufraat, en dié het die volk en die huis van God ondersteun.

ESRA 8:15-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek het hulle laat bymekaarkom by die rivier wat by Ahawa verbyloop. Ons het daar drie dae gekampeer, en ek het vasgestel dat daar priesters onder die mense was, maar ek kon geen Leviete vind nie. Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep, almal leiers, en ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige manne. Ek het hulle na Iddo, die leier in Kasifja, toe gestuur, en hulle gesê wat om vir Iddo en sy ampsgenote en vir die tempelslawe in Kasifja te sê sodat Iddo-hulle mense vir ons kon stuur wat in die tempel van ons God kon diens doen. Deur die goeie beskikking van ons God het hulle toe ook vir ons 'n verstandige man gestuur uit die nageslag van Magli seun van Levi, seun van Israel. Dit was Serebja, met sy seuns en sy ampsgenote, agtien altesaam. Verder het hulle ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die nageslag van Merari, met sy ampsgenote en hulle seuns, twintig altesaam. Van die tempelslawe wat nog deur Dawid en sy amptenare geskenk is om die Leviete van diens te wees, het daar twee honderd en twintig man gekom. Almal se name is opgeteken. Ek het daar by die Ahawarivier 'n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om 'n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het. Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor. Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle, en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het. Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud, twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud. Daarna het ek vir die twaalf priesters gesê: “Julle is aan die Here gewy, hierdie goed is ook aan Hom gewy. Die silwer en die goud is vrywillige gawes aan die Here die God van julle voorvaders. Wees wakker, pas dit op totdat julle dit uitweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en voor die familiehoofde van Israel in Jerusalem binne in die tempelvertrekke.” Die priesters en die Leviete het toe die silwer, die goud en die tempelgereedskap wat afgeweeg is, in ontvangs geneem om dit na Jerusalem toe te vat, na die tempel van ons God toe. Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie. Ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gerus. Die vierde dag het ons die silwer en die goud en die tempelgereedskap gaan weeg in die tempel van ons God en dit aan die priester Meremot seun van Urija oorhandig in die teenwoordigheid van Eleasar seun van Pinehas. Die Leviete Josabad seun van Jesua, en Noadja seun van Binnuï was by hulle. Alles was daar en die gewig was reg, en die gewig is dié dag noukeurig opgeskryf. Die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het toe aan die God van Israel brandoffers gebring: twaalf bulle vir die hele Israel, ses en negentig ramme, sewe en sewentig lammers en twaalf bokke as 'n sondeoffer. Alles was brandoffers aan die Here. Die opdragte van die koning is aan die gevolmagtigde verteenwoordigers van die koning en aan die goewerneurs van Wes-Eufraat oorhandig, en hulle het van toe af bystand verleen aan die volk en aan die tempel.

ESRA 8:15-36 Die Boodskap (DB)

Ek het almal by die kanaal wat na Ahawa vloei, bymekaar laat kom. Ons het drie dae lank daar oorgestaan. Ek het priesters onder die groep gekry. Daar was egter geen Leviete in die groep nie. Ek het die leiers Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep en ook die leermeesters Jojarib en Elnatan. Ek het hulle na Iddo, die hoof van die skool by Kasifja, gestuur. Hulle moes gaan kyk of hulle nie by Iddo Leviete kon kry wat bereid was om by die tempel van ons God in Jerusalem te gaan werk nie. Ons God was goed vir ons. Hulle het van daar af vir ons ’n baie bekwame Israeliet gestuur. Sy naam was Serebja. Hy was ’n afstammeling van Levi se seun Magli. Van sy seuns en sy broers uit die Leviete wat saam met hom gekom het, was daar altesaam agtien mans. Hulle het ook Gasabja vir ons gestuur. Jesaja uit Merari se nageslag en sy familie en seuns het saam met hom gekom. Hulle was altesaam twintig mans. Daar het ook 220 tempelwerkers van daar af gekom. Hulle was almal uit die nageslag van die mans wat Dawid en die leiers destyds aangestel het om die Leviete te help. Ook hulle name is opgeneem in die lys mense wat teruggegaan het. Ek het daar by die Ahawakanaal almal opgeroep om niks te eet nie en hulle voor God te verootmoedig. Almal moes tot God bid om ons reis voorspoedig te maak en ons en ons kinders en besittings te beskerm. Toe ons met die koning gepraat het, het ek nog so ewe vir hom gesê dat ons God goed sorg vir dié wat op Hom vertrou, maar Hy straf almal wat niks met Hom te doen wil hê nie. Ek was daarna te skaam om nog vir hom te vra om van sy manne saam met ons te stuur wat ons langs die pad teen aanvallers kon beskerm. Ons het daarom maar onsself in God se hand gegee en op Hom vertrou. Hy het ons gehoor en ons beskerm. Ek het Serebja en Gasabja en tien van die ander priesters gekies. Ek het vir hulle die geld en die ander goed vir die tempel gegee dat hulle dit kon oppas. Dit was die geskenke wat die koning, sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat in die ballingskap agtergebly het vir die tempel van ons God in Jerusalem gestuur het. Ek het dit geweeg en vir hulle gegee. Dit was 22 ton silwer, items wat van silwer gemaak was wat saam 68 kilogram geweeg het, items van goud wat ook 68 kilogram geweeg het, twintig bakke wat van goud gemaak was wat agt en ’n half kilogram geweeg het en twee items van suiwer koper wat net soveel werd soos goud was. Ek het vir die twaalf mans gesê: “Julle is afgesonder vir die Here, die God van ons voorouers. Hierdie goed behoort aan die Here. Die silwer en die goud is vir die Here geskenk. Julle moet daarna kyk en dit goed oppas sodat julle dit presies net so kan gee vir die hoof van die priesters en die Leviete en die leiers van Israel in Jerusalem. Hulle sal dit in die kamers van die tempel in Jerusalem wegbêre.” Die priesters en die Leviete het toe die silwer en die goud en die items vir die tempel gevat en die verantwoordelikheid op hulle geneem om dit Jerusalem toe te vat en te sorg dat dit in die tempel van ons God kom. Ons is op die twaalfde dag van die eerste maand van die Ahawakanaal af weg Jerusalem toe. Ons God het ons beskerm. Hy het langs die pad mooi na ons gekyk en gekeer dat daar mense was wat ons aangeval het of rowers wat ons voorgelê het. Toe ons in Jerusalem aankom, het ons eers vir drie dae gerus. Op die vierde dag het ons die silwer, die goud en die items vir die tempel by die tempel gaan weeg en dit getel. Ons het dit aan die priester Meremot seun van Urija gegee. Eleasar seun van Pinehas was by. Die Leviete Josabad die seun van Jesua en Noadja die seun van Binnuï was ook as getuies by. Elke ding en die presiese gewig soos ons dit opgeskryf het voor ons weg is, was net so daar. Alles is op daardie dag weer geweeg en weer opgeskryf. Almal wat teruggekom het, het toe vir die God van Israel offers gebring wat op die altaar verbrand is. Daar was twaalf bulle vir al die Israeliete. Ons het 96 ramme, 77 lammers en twaalf bokke vir die sonde geoffer. Ons het al hierdie offers vir die Here op die altaar by die tempel verbrand. Hulle het ook die briewe wat die koning geskryf het, vir die koning se amptenare gegee. Hulle was goewerneurs in Wes-Eufraat. Die amptenare het die volk en die tempel van God met alles gehelp wat die koning gesê het hulle vir hulle moet gee.

ESRA 8:15-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het die ballinge by die kanaal wat by Ahawa verbyloop, laat bymekaarkom. Daar het ons vir drie dae gekamp terwyl ek die lyste met mense en priesters wat aangekom het, nagegaan het. Ek het uitgevind dat daar nie een Leviet onder hulle was nie. Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep. Hulle was die leiers van die mense. Ek het ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige mense, laat roep. Ek het hulle na Iddo, die leier van die Leviete in Kasifja gestuur met ’n versoek. Hy en sy naasbestaandes, asook die tempelwerkers, moes mense stuur om in die tempel van ons God diens te doen. Omdat ons God vir ons goed was, het hulle ’n verstandige man met die naam Serebja gestuur en van sy seuns en broers, agtien altesaam. Hy was uit die familie van Magli seun van Levi, ’n seun van Israel. Hulle het ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die familie van Merari en van sy seuns en broers, twintig altesaam, en 220 tempelwerkers. Die tempelwerkers was ’n groep werkers wat destyds deur koning Dawid en sy amptenare aangestel is om die Leviete te help. Hulle name is almal op die lys geplaas. Ek het daar by die Ahawakanaal vir almal opdrag gegee om te vas sodat hulle nederig kon wees voor ons God. Ons het gebid dat ons reis veilig sou wees en dat Hy ons en ons kinders en ons besittings sou beskerm. Ek was skaam om die koning te vra om soldate en ruiters saam met ons te stuur om ons teen vyande op ons pad te beskerm, want ons het vir die koning gesê: “Ons God beskerm almal wat Hom aanbid, maar sy toorn woed voort teen hulle wat Hom in die steek laat.” Dit is hoekom ons gevas en ernstig gebid het dat God na ons moes omsien. Hy het ons gebed verhoor. Ek het twaalf leiers uit die priesters gekies, naamlik Serebja, Gasabja en nog tien ander priesters om in beheer te wees van die vervoer van die silwer, goud, die goue bakke en ander voorwerpe. Die koning, sy raadgewers, sy leiers en al die mense van Israel het dit vir die tempel van ons God gegee. Ek het dit alles geweeg en vir hulle gegee. Dit was: 24 ton silwer, voorwerpe van silwer wat 68 kilogram geweeg het, en goue voorwerpe van drie en ’n half ton. Verder was daar twintig goue bakke wat saam agt en ’n half kilogram geweeg het en twee kosbare koperbakke net so waardevol soos goud. Ek het vir hierdie priesters gesê: “Julle en hierdie geskenke is vir die HERE afgesonder. Hierdie silwer en goud is offers wat vrywillig vir die HERE, die God van ons voorouers gemaak is. Julle moet hierdie geskenke goed oppas totdat julle dit by die stoorplekke by die tempel van die HERE in Jerusalem oorhandig. Daar mag geen verliese wees wanneer julle dit aan die priesters, die Leviete en die leiers van Israel oorhandig nie.” Die priesters en die Leviete het die taak om hierdie geskenke na die tempel van ons God in Jerusalem te vervoer, aanvaar. Op 19 April het ons van die Ahawakanaal vertrek om na Jerusalem te gaan. Ons God het ons beskerm. Hy het ons op ons reis gered van ons vyande en van hinderlae. Toe ons in Jerusalem aangekom het, het ons vir drie dae daar gerus. Op die vierde dag het hulle die silwer, goud en die ander kosbare voorwerpe by die tempel van ons God geweeg. Dit is toe in die hande gelaat van Meremot seun van Urija die priester, en Eleasar seun van Pinehas. Nog twee Leviete, Josabad die seun van Jesua en Noadja seun van Binnuï, was saam met hulle. Soos hulle dit oorhandig het, het hulle alles getel en geweeg en die totale gewig opgeskryf. Die bannelinge wat teruggekom het uit die land waar hulle gevange gehou was, het toe brandoffers vir die God van Israel gebring. Hulle het twaalf bulle vir die hele Israel geoffer, verder ook 96 skaapramme en 77 lammers. Hulle het ook nog twaalf bokramme as ’n sonde-offer gebring. Hulle het al hierdie brandoffers tot eer van die HERE gebring. Daarna het hulle die geskrewe opdragte van die koning vir sy senior amptenare en die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier gegee. Hierdie mense het van toe af hulle ondersteuning aan die volk en die tempel van God gegee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid