ESEGIËL 36:34-38
ESEGIËL 36:34-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die kaalgestroopte land sal bewerk word in plaas daarvan dat dit kaal lê voor die oë van almal wat daar verbygaan. Hulle sal sê: ‘Dié land was verlate en nou is hy soos die tuin van Eden; die stede het in puin gelê, hulle was verlate en verwoes, en nou is hulle vestingstede met inwoners.’ Die nasies wat nog rondom julle oor is, sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die verwoeste stede herbou het en die kaalgestroopte land weer beplant het. Ek, die Here, sê dit en Ek sal dit doen.” So sê die Here my God: “Ek sal ook nog dít vir Israel doen in antwoord op hulle gebede: Ek sal hulle soos kleinvee laat vermeerder. Die stede wat nou in puin lê, sal net so vol mense wees as wat Jerusalem vol kleinvee is in die feestye, kleinvee vir die offers. Dan sal Israel besef dat Ek die Here is.”
ESEGIËL 36:34-38 Bybel vir almal (ABA)
Hulle sal weer werk in die land waar nou nie mense kan woon nie. Mense wat verbykom, sal nie weer sien dat die land leeg is nie. Hulle sal sê: ‘Niemand kon voorheen in hierdie land woon nie, maar dit het nou geword soos die tuin van Eden. Mense het die stede se sterk mure weer gebou en hulle het daar gaan woon, in die stede wat verwoes was en waar niemand kon woon nie.’ Die volke wat oorgebly het rondom julle, sal weet dat Ek die Here is wat die stede weer bou wat verwoes was en wat bome plant in die grond waar niemand kon woon nie. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die volk Israel bid en dit vir My vra, dan sal Ek hulle baie laat word, so baie soos die mense se skape en bokke. Hulle sal word soos die skape en bokke van die mense wat aan My behoort, soos die skape en bokke in Jerusalem wanneer dit feestyd is. Die stede wat nou net hope klippe is, sal vol skape en bokke wees. Die mense sal weet dat Ek die Here is.”
ESEGIËL 36:34-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit 'n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan. En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon. Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen. So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape. Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
ESEGIËL 36:34-38 Die Boodskap (DB)
Die veld wat nou verlate lê, sal weer deur die boere in landerye omskep word. Die mense wat nou by julle plase verbyloop, is geskok oor hoe verlate alles is. Maar wanneer Ek julle terugbring, sal die mense sê: ‘Kan jy dit glo? Hierdie godverlate land het nou die Here se tuin geword!’ Die stede wat bouvalle is, sal dan weer veilig wees vir al die mense wat daarin woon. Dan sal al die nasies wat nog om julle bly, weet en erken dat Ek, die Here, die bouvalle weer opgebou het. Hulle sal weet dat dit Ek is wat landerye in die woestyn gemaak het. Want Ek, die Here, het belowe dat Ek dit sal doen. En Ek gaan dit doen!” So sê die Here, Esegiël se God: “Ek staan reg om na Israel se gebede te luister as hulle My vra dat Ek al hierdie dinge vir hulle doen. Ja, Ek wil graag doen wat hulle vir My vra. Ek sal die mense in hierdie land so baie laat word soos die skape en beeste in Jerusalem as daar ’n groot fees aan die gang is. Die stede wat nou net bouvalle is, sal vol mense wees soos voorheen. En almal sal erken dat Ek die Here is.”
ESEGIËL 36:34-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In plaas daarvan dat dit kaalgestroop lê voor almal wat daar verbygaan, sal die verlate velde weer bewerk word. Wanneer Ek julle terugbring, sal mense sê: ‘Hierdie land wat godverlate was, is nou soos die Tuin van Eden! Die stede wat verlate in puin gelê het, is nou versterk en vol mense!’ Dan sal al die buurnasies wat oor is, besef dat Ek, die HERE, die puinhope herbou het en die verlate landerye weer beplant het. Want Ek, die HERE, het dit belowe en Ek sal dit doen! “So sê die oppermagtige HERE: Ek staan gereed om in antwoord op Israel se gebede ook dit te doen: Ek maak die volk so baie soos skape. Hulle sal so baie word soos die offerskape wat gedurende feestye Jerusalem se strate vol loop. Die stede wat puinhope was, sal vol mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die HERE is.”