ESEGIËL 1:4-9

ESEGIËL 1:4-9 Die Boodskap (DB)

Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was. Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid